Ek het onlangs ’n eerlike vraag van iemand gekry wat ek net bietjie wil oopbreek. Die persoon het gevra hoe ’n mens ophou om net na “swart woorde op wit papier” te kyk wanneer jy die Bybel lees, en hoe jy werklik dieper begin sien, soos ’n driedimensionele prentjie wat skielik lewe kry.

Dit is ’n vraag wat baie mense het, al sê min dit hardop.

As ons eerlik is, lees ons soms… maar niks gebeur nie.
Die woorde bly net woorde.
Die sinne bly net sinne.
En ons wonder: Hoekom sien ek nie meer nie?

Die waarheid is: daar is ’n groot verskil tussen lees en sien.

Lees gebeur met jou oë.
Maar sien… gebeur met jou hart.

Ons neem maklik aan dat “kyk dieper” beteken dat ons harder moet probeer, meer konsentreer, slimmer wees, of dalk ’n sekere geestelike vlak bereik. Maar dit werk nie so nie. Jy kan nie die Woord “oopdink” nie. Jy kan dit net ontvang.

Dis soos daardie ou driedimensionele prentjies wat ons as kinders in tydskrifte gekry het. Mens het gesukkel om daarna te staar en te sien wat dit is. Hoe harder jy probeer, hoe minder sien jy wat dit is. Maar die oomblik toe jou oë ontspan… toe gebeur iets. Skielik was daar ’n dieper dimensie.

Dis presies hoe dit met God se Woord werk.

Kom ons kyk na iets in Matthéüs 6:9-13 wat ons almal ken — die Onse Vader:

“Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;
gee ons vandag ons daaglikse brood;
en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

Ons het dit al soveel keer gelees dat ’n mens dit vanselfsprekend in jou gedagtes herhaal. En wanneer iets te bekend raak, hou ons op om dit werklik te sien.

Kom ons vat net die eerste paar woorde:

Ons Vader wat in die hemele is…

Hoe maklik lees ons dit net en gaan aan.

Maar kyk ’n oomblik stadiger.

“Onse Vader…”

Nie net Skepper of God nie, maar Vader.

Dit skreeu nie net verhouding uit nie, maar beklemtoon ook nabyheid. Dit verwys na iemand wat jou ken.

En dan:
“wat in die hemele is…”

Skielik verander alles.

Hy is Vader, maar nie beperk soos ’n aardse vader nie.
Hy is naby, maar ook verhewe.
Hy is persoonlik, maar ook almagtig.

Sien jy wat gebeur?

Die woorde het nie verander nie.
Maar jou manier van kyk het verander.

Dis waar “kyk dieper” begin.

Nie deur nuwe woorde te kry nie…
maar deur dieselfde woorde anders te benader.

Baie keer lees ons die Bybel om klaar te maak.
Maar die Woord is nie geskryf om afgehandel te word nie, dit is geskryf om ontmoet te word.

Wanneer jy lees, vra nie net: “Wat staan hier?” nie,
maar eerder: “Here, wat wil U my hierin wys?”

Daar is ’n groot verskil.

Want die Bybel is nie net inligting nie — dit is openbaring.
En openbaring kan jy nie afdwing nie.
Dis iets wat God gee.

Dis hoekom Jesus gesê het dat mense oë het… maar nie sien nie.
Dit beteken nie hulle is blind nie — dit beteken hulle kyk, maar sonder dieptepersepsie.

So hoe begin ’n mens?

Jy begin nie deur harder te probeer nie.
Jy begin deur stadiger te word.

Lees een lyn… en stop.
Dink daaroor.
Sit daarmee.
Laat dit insink.

As iets jou raak — al verstaan jy nie hoekom nie — bly daar.
Dis gewoonlik waar God besig is.

Ons dink baie keer dat “dieper insig” iets dramaties moet wees — ’n groot openbaring, ’n wow-oomblik. Maar dikwels is dit sag en baie eenvoudig.

Dis ’n gedagte wat bly.
’n Vraag wat opkom.
’n Gevoel wat nie wil weggaan nie.
’n Stil trekkrag in jou hart.
’n Sagte stem wat jou roep om stil te word.

Dis hoe die Gees werk.

En hier is iets belangrik:
Jy gaan nie altyd iets sien nie.

Daar gaan dae wees wat dit net woorde bly. En dis oukei.

Want die krag van die Woord lê nie net in wat jy ervaar nie, maar in wat dit doen — selfs wanneer jy dit nie voel nie.

Dink weer aan die droë bene in Esegiël.

Dit was dood, is stil en droog.
Maar toe die Woord kom… het iets begin gebeur.

Nie omdat die bene iets gedoen het nie, maar omdat God gepraat het. So, selfs wanneer jy lees en dit voel dood… moet nie dink niks gebeur nie.
God werk dikwels onder die oppervlak.

“KYK DIEPER” beteken dus nie: probeer harder sien nie.

Dit beteken: word stiller, maak oop vir diepte, en wees beskikbaar. En miskien is die belangrikste van alles — kom sonder ‘n verwagtinge van hoe dit moet lyk.

Want baie keer mis ons wat God vir ons wys… omdat dit nie lyk soos wat ons gedink het dit sou lyk nie.

Jy mag dalk net een woord sien.

Soos “Vader”.
Of “hemel”.

En jy dink dis nie genoeg nie.

Maar dit is.

Want God bou diep waarhede… een laag op ’n slag.

So, volgende keer wanneer jy lees, moet nie jaag of probeer presteer nie.

Lees…
en kyk weer.

En wanneer dit voel of jy niks sien nie —
onthou:

Jy leer nog hoe om jou oë “in te stel”.

En op ’n dag… sonder dat jy dit eers besef… gaan die Woord begin oopgaan.

Nie omdat jy dit reggekry het nie —
maar omdat Hy dit vir jou gewys het.

En dis wanneer swart woorde op wit papier… lewende waarheid word.