Psalm 131 is een van die kortste psalms. Net drie verse. Tog is dit een van die diepste beskrywings van die gelowige se verhouding met die Here. Dit is nie ‘n psalm van groot dade of buitengewone ervarings nie. Dit gaan oor die stil werk wat God in ‘n mens se hart doen. Dawid begin nie deur oor sy omstandighede te praat nie, maar oor sy binneste. Hy sê: “…o Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.”
Die eerste woorde openbaar reeds iets belangriks. Hoogmoed leef nie eerste in die hand of op die tong nie, maar in die hart. Daarom begin Dawid daar. ‘n Verhewe hart bring uiteindelik verhewe oë voort. Die mens begin homself groter ag as wat hy werklik is, dan begin hy dink dat hy antwoorde op alles moet hê. Hy wil verstaan waarom God sekere dinge doen en wil die verborgenhede van God oopmaak. Dan wil hy beheer hê oor sake wat die Here nooit aan hom toevertrou het nie.
Dawid sê dat hy nie in sulke dinge wandel nie. Dit beteken nie dat hy ophou dink of dat hy nie vrae het nie. Dit beteken dat hy sy plek voor God ken. Hy erken dat daar dinge is wat eenvoudig groter is as hyself. Die Here het nie alles geopenbaar nie. Moses skryf in Deuteronómium dat die verborge dinge vir die HERE onse God is, maar die geopenbaarde dinge vir ons en ons kinders is. Geloof probeer nie die verborge dinge besit nie. Geloof rus in wat God wel geopenbaar het.
Hierdie rus kom egter nie vanself nie. Daarom volg die aangrypende beeld in die tweede vers waar Dawid sê: ” Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ‘n gespeende kind by sy moeder, soos ‘n gespeende kind is my siel in my.”
Dit is opvallend dat hy nie van ‘n baba praat nie. ‘n Baba kom na sy moeder omdat hy iets wil hê. Hy soek melk. Sy rus daar net totdat sy behoefte weer na vore kom. Sy verhouding met sy moeder word nog grootliks deur sy behoefte bepaal.
Maar Dawid kies doelbewus ‘n ander beeld. Hy praat van ‘n gespeende kind. Dit is ‘n kind wat geleer het dat sy moeder meer is as die bron van voedsel. Hy sit by haar, nie omdat hy iets ontvang nie, maar omdat hy by haar veilig is. Hy het geleer om te rus in haar teenwoordigheid.
Juis daarom is hierdie beeld so diep. Dawid beskryf nie bloot uiterlike stilte nie. Hy beskryf ‘n hart wat deur God geleer is om nie voortdurend iets te eis nie. Die menslike hart is van nature onrustig. Dit wil antwoorde hê. Dit wil uitkoms hê. Dit wil verstaan. Dit wil ontvang. Selfs ons gebede kan soms meer oor God se gawes gaan as oor God self.
Die gespeende kind wys vir ons iets anders. Daar kom ‘n geestelike volwassenheid waarin die gelowige leer dat die grootste gawe nie noodwendig is wat God gee nie, maar dat Hy self naby is. Dit beteken nie dat begeertes verdwyn of dat swaarkry maklik word nie. Dit beteken dat die verhouding met die Here nie meer uitsluitlik deur onmiddellike ontvangs bepaal word nie.
Let ook op dat Dawid sê: “Ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak.” Dit klink amper vreemd. Kan ‘n mens jou eie siel stilmaak? Nie uit eie krag nie. Maar Dawid beskryf die verantwoordelikheid van geloof. Hy laat sy hart nie eenvoudig met elke vrees of elke vraag wegloop nie. Hy bring sy hart doelbewus terug na die Here. Hy herinner homself aan Wie God is. Hy onderwerp sy onstuimige gedagtes aan die waarheid van God se karakter.
Dit is dieselfde beweging wat ons dikwels in die Psalms sien. Die psalmdigters ontken nie hulle nood nie. Hulle praat eerlik daaroor. Maar hulle laat nie hulle nood die laaste woord spreek nie. Hulle keer telkens terug na die Here. So word die siel stil, nie omdat alle vrae beantwoord is nie, maar omdat God betroubaar is.
Hierdie beeld spreek ook ons tyd aan. Ons leef in ‘n wêreld wat gedurig antwoorde eis. As iets nie verstaan kan word nie, raak ons ongeduldig. As gebede nie gou verhoor word nie, wonder ons of God nog luister. As die pad donker word, probeer ons self beheer neem.
Psalm 131 wys ‘n ander weg. Geestelike volwassenheid word nie gemeet aan hoeveel ons weet nie, maar aan hoeveel ons God vertrou wanneer ons nie weet nie. Die gespeende kind sit nie by sy moeder omdat hy alles verstaan nie. Hy sit daar omdat hy haar ken.
Daarom eindig die psalm nie by Dawid se eie ervaring nie. Nadat hy sy eie hart beskryf het, rig hy hom tot die hele volk en sê: ” Wag op die Here, o Israel, van nou af tot in ewigheid!”
Dit is die natuurlike gevolg van alles wat vooraf gesê is. Wie geleer het om sy siel stil te maak voor die Here, ontdek dat hoop nie op omstandighede rus nie. Hoop rus op God self. As ons hoop net leef wanneer dinge goed gaan, is dit nie Bybelse hoop nie. Maar wanneer ons, soos die gespeende kind, by die Here kan rus selfs wanneer ons nie ontvang wat ons verwag nie, begin ons iets verstaan van die vrede waarvan Dawid hier getuig.
Psalm 131 nooi ons dus nie om kleiner van ons probleme te dink nie. Dit nooi ons om groter van die Here te dink. Die hart wat ophou om voortdurend na antwoorde te gryp, leer om te rus in Hom wat nooit verander nie. So word die siel stil, nie omdat alles opgelos is nie, maar omdat die Here genoeg is.
Share the devotional with someone.
Weereens so mooi saamgevat. Ek waardeer elke boodskap. Dit is voedsel vir ń mens se siel. Baie dankie.