Bartiméüs sit langs die pad wanneer Jesus uit Jérigo vertrek. Markus stel hom eenvoudig aan ons bekend: hy is blind, en hy bedel. Sy plek in die verhaal is letterlik langs die pad. Ander mense loop; hy sit. Die skare beweeg saam met Jesus; Bartiméüs bly waar hy is en leef van wat verbygangers bereid is om vir hom te gee.
Toe hy hoor dat dit Jesus die Nasaréner is wat verbygaan, begin hy roep: “Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!” Die skare probeer hom stilmaak, maar hy roep net harder. Hy kan Jesus nie sien nie, maar hy het genoeg gehoor om te weet na Wie hy roep. Die mense praat van Jesus die Nasaréner; Bartiméüs noem Hom die Seun van Dawid. In sy nood roep hy nie bloot na ’n bekende wonderwerker nie. Hy spreek Jesus aan met ’n naam wat iets van sy geloof openbaar.
Dan gebeur iets wat maklik tussen die groter gebeure van die verhaal verlore kan raak. Jesus gaan staan.
Die hele optog kom as ‘n ware tot stilstand by die geroep van ’n blinde bedelaar langs die pad. Jesus sê dat hy geroep moet word, en die mense wat hom kort tevore wou stilmaak, sê nou vir hom: “Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou.”
Markus vertel dan in vers 50: “En hy gooi sy oorkleed af, staan op en kom na Jesus toe.”
Dit is ’n klein aksie. Markus kon eenvoudig gesê het dat Bartiméüs opgestaan en na Jesus gegaan het. Tog vertel hy dat die man sy oorkleed afgooi. Ons moet versigtig wees om nie meer in so ’n besonderheid te lees as wat die teks self toelaat nie. Markus sê nie uitdruklik waarom Bartiméüs dit gedoen het nie. Maar binne die verhaal is die handeling betekenisvol. Die oorkleed het aan sy lewe as bedelaar behoort. Vir iemand in sy omstandighede was so ’n kleed nie ’n onbelangrike besitting nie. Dit was beskerming teen die koue en deel van die eenvoudige bestaan wat hy langs die pad gevoer het.
Toe Jesus hom geroep het, staan Bartiméüs nie eers op, vou sy kleed sorgvuldig op en maak seker dat dit veilig gebêre is voordat hy gaan nie. Hy gooi dit eenvoudig af en gaan na Jesus toe.
Daar is iets treffends in die eenvoud van daardie beweging. Bartiméüs het nog nie gesien toe hy die kleed afgooi het nie. Die genesing het nog nie plaasgevind nie. Jesus het nog nie eens vir hom gevra wat hy verlang nie. Op daardie oomblik weet Bartiméüs net een ding: en dit is dat Jesus hom geroep het.
Sy optrede loop dus voor die wonderwerk uit. Hy laat iets van sy ou bestaan agter voordat sy oë oopgaan. Nie omdat die kleed waardeloos was nie, maar omdat die roepstem van Christus nou die bepalende werklikheid geword het.
Dit is juis hier waar Markus se vertelling so fyn is. Kort tevore, in dieselfde hoofstuk, het ’n ander man na Jesus toe gekom. Hy het gehardloop, voor Hom op die knieë geval en gevra wat hy moes doen om die ewige lewe te beërwe. Jesus het hom aangekyk en liefgekry. Daarna het Hy vir hom gesê: “Een ding kom jy kort — gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.”
Maar die man het bedroef weggegaan, “want hy het baie besittings gehad.”
Bartiméüs het byna niks nie. Tog, wanneer Jesus hom roep, gooi hy af wat hy het en kom. Die ryk man kon sien, maar het bedroef van Jesus weggegaan. Die blinde man kan nie sien nie, maar kom na Jesus toe. Die een het baie besittings gehad en kon dit nie los nie; die ander se oorkleed lê agter hom wanneer hy voor Jesus staan.
Die punt is nie dat armoede vanself geloof voortbring of dat besittings vanself ongeloof beteken nie. Jesus se eie woorde in hierdie hoofstuk gaan dieper. Nadat die ryk man weggegaan het, praat Hy van “die wat op hulle goed vertrou”. Die vraag is waar ’n mens se vertroue rus wanneer Christus roep.
Bartiméüs kom met leë hande. Hy bring geen aanspraak en geen verdienste nie. Sy eerste woorde was ’n beroep op barmhartigheid: “Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!” Wanneer hy uiteindelik voor Jesus staan, vra Jesus in vers 51: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Bartiméüs antwoord: “Rabboeni, dat ek mag sien.”
Die Here gee hom kans om te spreek, om te sê wat die probleem is, alhoewel Hy weet wat fout is. Bartiméüs vra nie vir ’n beter plek langs die pad nie. Hy vra nie vir meer mense om hom aalmoese te gee nie. Hy vra dat die toestand wat sy hele bestaan bepaal het, verander moet word: “dat ek mag sien.”
Jesus antwoord: “Gaan, jou geloof het jou gered.” Dan sê Markus: “En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.”
Daardie laaste woorde voltooi die verhaal. Aan die begin sit Bartiméüs langs die pad. Aan die einde volg hy Jesus op die pad. Sy lewe het nie bloot gemakliker geword nie; sy plek het verander. Die man wat afhanklik was van wat verbygangers vir hom kon gee, het nou ’n volgeling van Jesus geword, en iewers agter hom lê sy oorkleed.
Dit is moontlik om te veel van die kleed te maak en die verhaal te verander in ’n algemene les oor dinge waarvan ons ontslae moet raak. Die middelpunt van die verhaal is nie die krag van Bartiméüs se loslaat nie. Die middelpunt is die Een wat stilgestaan en hom geroep het. Die kleed kry betekenis omdat Jesus geroep het. Bartiméüs se geloof was nie geloof in sy eie vermoë om ’n nuwe lewe te begin nie. Dit was vertroue in die Seun van Dawid op wie se barmhartigheid hy hom beroep het.
Daarom is die volgorde belangrik. Jesus kom verby. Bartiméüs hoor. Hy roep. Jesus gaan staan. Jesus laat hom roep. Eers dan gooi Bartiméüs sy oorkleed af en kom.
Geloof begin hier nie by wat Bartiméüs prysgee nie, maar by Wie hom roep.
Tog maak daardie geloof hom nie passief nie. Toe Christus se roepstem hom bereik het, het hy nie sy ou lewe met een hand vas gehou terwyl hy met die ander hand na Jesus gryp nie. Hy staan op en kom. Die oorkleed wat tot daardie oggend deel van sy bestaan langs die pad was, word agtergelaat omdat Bartiméüs sy verwagting nou op Jesus gestel is.
Hy het nie vooraf geweet hoe Jesus sou antwoord nie. Maar hy het geweet na Wie hy geroep het: “Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!”
Die man wat blind was, het iets van Jesus raakgesien voordat sy oë oopgegaan het. En toe sy oë oopgaan, gebruik hy sy nuwe sig nie om terug te keer na sy ou plek langs die pad nie. Markus sê eenvoudig dat hy Jesus op die pad gevolg het.
Die oorkleed lê agter hom, terwyl Christus voor hom is. En die man wat vroeër langs die pad gesit het, is nou op dieselfde pad agter Jesus aan.
Share the devotional with someone.