Party Bybelverhale ken ons só goed dat ons ophou luister. Daniël en die leeu-kuil is een van daardie stories. Ons hoor dit as kinders, ons sien dit op prente, en iewers raak dit ’n heldeverhaal – Daniël is sterk, God is groot en die leeus is mak.
Maar wat as hierdie storie nie eintlik oor moed gaan nie? Wat as dit oor volhoubaarheid gaan? Daniël beland nie in die leeu-kuil omdat hy iets verkeerd gedoen het nie. Hy beland daar omdat hy iets reg bly doen het.
Hy het aangehou bid, aangehou glo en aangehou leef soos iemand wat weet wie sy God is.
Dis belangrik vir ‘n mense om te hoor dat getrouheid jou nie altyd beskerm teen moeilikheid nie. Soms lei dit jou reguit daarin. Toe die wet verander het, het Daniël volhard in wat hy gedoen het. Hy het nie sy venster toe gemaak nie. Hy het ook nie in sy hart gebid om veilig te wees nie. Hy het bly doen wat hy altyd gedoen het, en dit het hom gekos.
Soms dink ons dat ons net hard genoeg moet glo, of in volharding moet bly bid. Op so manier glo ons dat niks slegs kan gebeur nie, maar Daniël se lewe hiet iets anders gewys: Mens kan alles reg doen, en nog steeds in ’n kuil beland.
Die Bybel vertel nie vir ons hoe Daniël gevoel het toe hy in die donker kuil af gesak het nie. Die verhaal sê nie vir ons of hy bang was of hy getwyfel het nie. Dit sê ook nie of hy gehuil het nie, en dit is goed, want dit beteken dat daar plek is vir ons emosies in daardie stilte.
Die leeu-kuil lyk vir elke persoon anders. Vir party is dit druk om in te pas. Vir ander is dit eensaamheid, en vir sommiges is dit ’n geheim waarmee jy alleen sit. Dan is dit ook vir ander vrees oor die toekoms, of skuld van die verlede. Hier is die moeilike deel: God keer nie altyd dat jy nie in die kuil beland nie, nes Hy nie gekeer het dat Daniël in die leeu-kuil beland het nie.
Hy het hom ook nie daar gelos nie. Toe Daniël later vertel het wat gebeur het, sê hy dit eenvoudig sonder drama, soos Daniël 6:23 dit gestel het: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit…”
Nie vernietig nie,
ook nie verwyderd nie,
net… toegesluit.
Die leeus was nog daar en selfs die gevaar was nog werklik, maar dit het nie meer beheer gehad nie. Dis ’n diep pastorale waarheid vir elke persoon: God se teenwoordigheid beteken nie noodwendig dat jou probleme verdwyn is nie, maar dat hulle jou nie kan verslind nie.
Daniël moes die hele nag lank leer om God te vertrou, sonder bewyse, sonder sekerheid en sonder ’n uitweg wat hy kon sien.
Dis ’n geloof wat nie skree nie, maar wat bly staan. Ons leef in ’n wêreld wat jou aanmoedig om alles te verduidelik, te verdedig en alles te bewys. In die leeu-kuil leer Daniël ons dat jy nie altyd ’n antwoord hoef te hê nie, maar dat jy net hoef te weet wie saam met jou is.
Die mooiste deel van die storie is nie dat Daniël oorleef het nie, dit is dat God hom in die kuil gelos het sodat Hy hom kon dra. Dalk is dit die boodskap wat elkeen vandag die meeste nodig het: Jy hoef nie sterk te wees om getrou te wees nie. Ook hoef jy nie dapper te voel om vas te hou nie. Jy hoef net te wees.
Miskien is geloof nie om te glo dat God jou uit elke kuil sal hou nie, maar om te ontdek dat selfs in die donkerste kuil, dat God reeds langs jou sit.
Share the devotional with someone.
Amen Past Martin se preek pas mooi in by jou dagstuk my kind