Die verhaal van die verlamde man in Markus 2:1–12 en Lukas 5:17–26 het ’n diep betekenis. Daar is baie verskillende interpretasies wat ’n mens kan gebruik soos die Heilige Gees dit vir jou oopbreek.

Die huis waar in Jesus was, was vol. Nie leeg en koud nie, maar stampvol. Mense het teen mekaar gestaan, gesit, gehurk — elkeen gretig om te hoor, te sien en naby te wees. Só vol dat daar nie eens plek by die deur was nie.

Op die oog af lyk dit soos ’n suksesvolle geestelike byeenkoms. Jesus is daar, die Woord word verkondig en die huis bruis van verwagting. Juis in hierdie volheid lê die spanning van die verhaal, want buite die huis lê ’n man wat nie kan instap nie.

Hy is nie onwelkom verklaar nie. Niemand het vir hom gesê hy mag nie inkom nie. Tog is daar geen ruimte vir hom nie. Nie omdat Jesus afwesig is nie, maar omdat die huis reeds gevul is met mense.

As ’n mens dit uit ’n geestelike oogpunt beskou, sien ons iets dieper. Wanneer jy die Here die nodigste het, is daar dikwels iets wat jou keer om jou deurbraak te beleef. Daar is altyd struikelblokke wat oorkom moet word, en een van daardie struikel blokke is geloof. Die vraag bly staan, dat hoeveel geloof het jy vir jou deurbraak?

Hier begin die ongemaklike vraag vorm aanneem: “Kan ’n plek vol van God wees, en tog ontoeganklik vir dié wat Hom die nodigste het?” God is teenwoordig, maar toegang is moeilik.

Soms raak ons geestelike ruimtes só vol van aktiwiteite, sekerhede, taal, tradisie en selfs goeie teologie, dat daar min beweegruimte oorbly vir broosheid. Daar is plek vir luisteraars, maar nie vir draers nie; plek vir gesondes, maar nie vir dié wat siek is nie; plek vir orde, maar nie vir onderbreking nie.

Dit alles is deel van ’n geestelike stryd. Die vyand sal nie dié verhinder wat gemaklik en sonder nood is nie. Hy sal juis dié aanval wie se geloof wankelrig is en vir wie alles onmoontlik lyk.

Die deur is nie gesluit nie — dit is net geestelik toegepak. Dit is waar die verhaal nie vrae oor die skare begin vra nie, maar oor ons. Vrae soos: Vir wie maak ons ruimte? Vir wie bly daar plek wanneer alles reeds vol is? En wie bly buite? Nie omdat hulle nie wil inkom nie, maar omdat hulle nie kán inkom nie?

Die huis is vol, die deur is versper, maar die verhaal eindig nie daar nie. Waar toegang ontbreek, begin geloof kreatief raak. Die vriende van die verlamde man aanvaar nie dat “geen plek” die laaste woord is nie. Hulle kyk na die huis, nie na die versperrings nie.

Hulle gee nie moed op nie, hulle kyk op. Soos Dawid in Psalm 121:1 gesê het: “Ek slaan my oë op…waar sal my hulp vandaan kom?” Omdat hulle nie hulle koppe in moedeloosheid laat sak het nie, sien hulle die deurbraak. Hulle sien nie net ’n dak nie; hulle sien ’n moontlikheid. Wat vir ander ’n grens is, het vir hulle ’n deur geword.

Hier vra die verhaal stilweg: “Wat doen ons wanneer iemand nie kan inkom nie? Stuur ons hulle terug huis toe, of is ons bereid om iets daaraan te doen?”

Ware geloof beskerm nie die struktuur ten koste van mense nie. Die vier vriende het nie vasgekyk in strukture of die vrees vir ontwrigting nie, maar uit liefde ingetree vir hul vriend wat verlam lê. Hulle het geglo dat mense belangriker is as netheid, genesing belangriker as orde, en toegang tot Jesus belangriker is as ’n ongeskonde dak. Die belangrikste van alles is dat ’n siel belangriker is as om verlore te gaan.

Miskien is die vraag nie net vir wie ons ruimte maak nie, maar ook wat ons bereid is om oop te breek sodat daar ruimte kan wees. Die dak word ’n simbool van alles wat tussen ’n mens en God kan staan. Nie net die groot, duidelike dinge nie, maar ook dit wat goed en nodig lyk. Strukture wat eens veiligheid gebied het, raak later beperk. Selfs tradisies wat geloof gedra het, word soms mure.

Vrees fluister: “Dit is nie gepas nie”, en selfbeeld sê: “Ek hoort nie hier nie”, dan hou skuld ’n mens nou weer vas aan die mat waarop jy lê. Selfs ons behoefte aan ordentlikheid en beheer kan iemand buite hou.

Die dak is nie boos nie, maar ook nie heilig nie. Dit is hier waar geloof sy mees ongemaklikeste vorm aanneem. Geloof wat nie net glo nie, maar waag. Geloof wat verstaan dat dit wat vir ander ’n grens is, vir iemand anders die enigste deurgang kan wees.

Die vraag dring stadig na binne: “Wat in my lewe, my geloof of my gemeenskap het ’n dak geword? Wat beskerm ek so ywerig dat dit ander verhinder om naby te kom?

Ware geloof vra soms nie: “Is dit gepas?” nie, maar: “Wat moet oopgebreek word sodat iemand by Jesus kan uitkom?” Baie keer is dit my en jou geloof wat ander se geloof dra.

Hier word ons ook uitgenooi tot introspeksie. Die verlamde man het homself nie in hierdie toestand bevind weens ’n ongeluk nie, maar as gevolg van sonde. Net so is dit in vandag se lewe, nie elke uitdaging in ons lewens is die gevolg van vloeke of die vyand se toedoen nie.

Die kern van die verhaal lê nie bloot in fisiese verlamming nie, maar in ’n sondige natuur en ’n lewe wat gebreek was. Daarom sê Jesus nie eers: “Staan op, neem jou bed op en loop” nie, maar: “Seun, jou sondes is jou vergewe.”

Dit is skokkend, maar nie net vir die skrifgeleerdes nie, maar vir almal daar. Die man is verlam en sy nood is sigbaar, en tog spreek Jesus iets diepers aan.

Jesus sien ’n dieper verlamming. In daardie tyd is siekte dikwels met skuld verbind. Of dit waar was of nie, dit het minder saak gemaak as die las wat dit gedra het. Skaamte het soos ’n tweede liggaam aan hom vasgesit. Hy kon nie net loop nie, hy het moontlik geglo hy verdien dit nie.

Jesus het juis daar begin, want vergifnis kom vóór genesing. Nie as beloning of voorwaarde nie, maar as genade.

Jesus se eerste reaksie is nie om hom te genees nie, maar om hom vry te verklaar. Hy gee die man iets wat geen wonder werk alleen kon gee nie, en dit is ’n nuwe identiteit. Nie meer die verlamde of die skuldige nie, maar “my seun.”

Hier leer ons iets diep en ontstellend mooi: God se genade is nie afhanklik van jou funksionaliteit nie. Jy hoef nie eers te staan, te loop, te bewys of te verbeter voordat jy ontvang nie.

Identiteit kom voor funksie en aanvaarding voor verandering. Vergifnis maak ruimte vir genesing, nie andersom nie. Miskien lê die grootste bevryding nie daarin dat ons weer kan beweeg nie, maar daarin dat ons hoor: “Jy is nie vasgemaak aan jou verlede, jou liggaam of jou mislukkings nie.”

Iets wat elkeen uit die dagstuk kan leer, is: “Eers wanneer daardie woorde diep genoeg getref het, word opstaan moontlik.”