Spreuke 23:7: “Want soos hy in sy siel bereken, so is hy.”

Ons praat maklik oor geloof. Ons sing daaroor. Ons bid daaroor. Ons skryf dit op statusse en wens dit vir mekaar toe. Maar as jy eerlik met jouself raak—regtig eerlik—dan besef jy iets ongemaklik: ’n mens leef nie wat jy sê nie… jy leef wat jy glo. En dit wat jy glo, leef diep in jou denke.

Jy kan met jou mond verklaar: “Ek vertrou God.” Maar as jou gedagtes stil-stil gevul is met vrees, twyfel, onsekerheid en tekorte, dan is dit nie geloof wat jou lewe vorm nie, dit is jou denke. Jou denke wen elke keer. Nie jou woorde nie. Nie jou emosies nie. Jou denke.

Want wat in jou kop aanhou speel, word uiteindelik die rigting van jou lewe.

God se Woord is nie ’n mooi idee of ’n godsdienstige ritueel nie. Dit is lewend. Dit sny. Dit konfronteer. Dit openbaar. Dit wys vir jou nie net wie God is nie, dit wys vir jou wie jy werklik is, sonder verskonings, sonder maskers.

Spreuke 18:21 sê: “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”

Maar hier is wat baie mense mis: jou woorde begin nie by jou mond nie, dit begin by jou denke. Wat jy oor en oor bedink, word uiteindelik wat jy sê. En wat jy sê, word wat jy leef.

Jy leef nie per ongeluk waar jy vandag is nie. Jou innerlike wêreld het jou hierheen gebring.

Nie omdat jy “almagtig” is nie, maar omdat God jou geskape het om vanuit oortuiging te leef. Jou wêreld binne-in jou vorm jou wêreld buite jou.

En dit is presies hier waar baie mense hulleself mislei.

Hulle praat groot… maar glo klein.
Hulle verklaar oorwinning… maar verwag mislukking.
Hulle bid vir deurbrake… maar dink beperkings.

En dan, om dit alles te kroon, noem hulle dit nederigheid.

Dit is nie nederigheid nie, dis is ongeloof.

Nederigheid is om God se Woord te glo, selfs wanneer dit groter is as jou huidige realiteit. Ongeloof is om klein te dink en dit te vermom as wysheid of om “realisties te wees”.

God se hart vir jou was nog nooit ’n klein lewe of ’n beperkte bestaan nie. Van die begin af het Hy oorvloed, groei, en lewe bedoel. Nie net oorlewing nie, maar in oorvloed.

God dwing dit nie op jou af nie. Hy werk saam met jou, en alles begin… by jou denke.

Markus 9:23 sê: “As julle kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.”

Nie vir die een wat wens nie.
Nie vir die een wat hoop sonder oortuiging nie.
Nie vir die een wat praat sonder aksie nie.

Vir die een wat glo.

Geloof is nie ’n gevoel wat kom en gaan nie. Dit is nie ’n opwindende oomblik in ’n kerkdiens nie. Dit is ’n vaste, diep, onwrikbare oortuiging wat jou denke, jou woorde en jou dade in lyn bring met mekaar.

Hier is die waarheid wat baie mense nie wil hoor nie:

As jy iets sê wat jy nie leef nie, is dit nie geloof nie, dit is grootpratery.

Dit is maklik om te sê: “Ek is suksesvol.”
Maar as niks in jou lewe wys dat jy bou, groei, leer en deur gedruk het nie, dan is dit net woorde.

Geloof lyk anders.

Geloof sê: “Ek is oppad.”
Geloof werk.
Geloof bou.
Geloof hou aan wanneer dit moeilik raak.

Om te sê “ek is suksesvol” en dan elke dag te werk, te leer, te groei en aan te hou, is geloof in aksie.

God eer nie net wat jy sê nie. Hy eer jou geloof.

Jakobus 2:26 sê: “Geloof sonder die werke is dood.”

Dit beteken nie jy moet perfek wees voordat jy kan glo nie. Dit beteken jy begin glo, daarom begin jy anders leef.

Jy begin optree soos iemand wat glo.

As jy glo jy is bekwaam, dan begin jy leer.
As jy glo God voorsien, begin jy werk met verwagting.
As jy glo jy is geroep, begin jy stap soos iemand met ’n roeping.

Nie eendag nie. Nou.

Maar hier is die ongemaklike waarheid:

Baie mense wil hê God moet hulle lewe verander… maar hulle weier om hulle denke te verander.

Hulle hou vas aan ou vrese.
Ou patrone.
Ou identiteite.

En dan verwag hulle nuwe resultate.

Dit werk nie so nie.

Romeine 12:2 sê: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed…”

Let mooi op; verandering begin nie buite jou nie, dit begin binne in jou. In jou denke en in jou oortuigings.

Jy kan nie ’n nuwe lewe leef met ’n ou manier van dink nie.

Dit is soos om nuwe wyn in ’n ou wynsak te gooi, dit gaan bars.

En tog… wag mense.

Hulle wag vir bevestiging. En hier praat ek nie van bevestiging van God af nie, hier praat ek van bevestiging van die sienlike. So asof hulle wag dat dit in hul skoot moet val. Dan wag hulle vir ’n teken. Dan wag hulle vir alles om reg te voel.

Maar geloof werk nie so nie.

Geloof sê: Ek glo, daarom beweeg ek.
Nie: Ek sien, daarom glo ek nie.

2 Korintiërs 5:7 sê: “Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”

Dit beteken jy gaan nie altyd seker voel nie.
Dit beteken ook jy gaan nie altyd die bewys hê nie.
En ook beteken dit jy gaan nie altyd verstaan nie.

Maar jy beweeg… omdat jy glo.

Want alles wat jy nodig het, het jy reeds:

Die Woord.

En die Woord is genoeg.

God se beloftes is nie net mooi woorde nie. Dit is ‘n werklikheid wat wag om in jou lewe sigbaar te word. Maar dit gebeur nie deur passiewe hoop nie, maar deur aktiewe geloof.

Geloof wat dink.
Geloof wat praat.
Geloof wat doen.

Jy kan nie aanhou dink soos iemand wat verloor en verwag om te wen nie.

Jy kan nie aanhou dink soos iemand wat tekort het en verwag om oorvloed te ervaar nie.

Jy kan nie aanhou dink soos iemand wat bang is en verwag om met vrymoedigheid te leef nie.

Dit werk nie.

Soos jy dink… so is jy.

Nie eendag nie.
Nou.

Jou lewe weerspieël reeds wat jy glo. Nie wat jy hoop nie, ook nie wat jy wens nie, maar wat jy glo.

En dit is nie ’n veroordeling nie.

Dit is ’n uitnodiging.

’n Uitnodiging om wakker te word.
Om eerlik te raak.
Om jou denke in lyn te bring met God se waarheid.

Nie om voor te gee nie.
Nie om iets te “fake” nie.

Maar om werklik te begin glo wat Hy sê.

En dan, om daarvolgens te leef.