Nadat ’n paar persone my al genader het oor onduidelikheid oor vas, het ek dit goed gedink om eerder terug te gaan na die Woord en dit deeglik te ondersoek, om seker te maak dat dit wat ek sê, werklik Woord-gefundeerd is.
Jy kan al die reëls volg, presies eet wat jy dink reg is, en tog die belangrikste mis. Ja, jy kan alles reg doen… en steeds verkeerd wees voor God. En daar praat ek oor die toestand van jou hart voor Hom. Nog steeds is die vraag: wat sê die Bybel werklik oor vas? Daar is baie menings oor vas, maar min mense doen werklik eerlike ondersoek na wat die Woord sê. Kom ons kyk daarom na wat die Skrif wél sê, en wat dit níe sê nie.
Vas is een van daardie onderwerpe waaroor baie mense sterk opinies het. Party sien dit as ’n noodsaaklike geestelike dissipline wat elke gelowige móét beoefen, terwyl ander dit weer vermy of selfs verkeerd verstaan. Daar is baie leringe en praktyke wat mettertyd bygevoeg is, wat nie altyd duidelik in die Woord gegrond is nie. Daarom is dit belangrik dat ons teruggaan na die Skrif, waar die vraag nog steeds hangende bly: Wat sê God se Woord regtig oor vas?
Wanneer ons na die Bybel kyk, sien ons dat vas beslis ’n plek het in die lewe van gelowiges. Dit is nie iets wat ons sommer kan afmaak as onbelangrik nie. Jesus self het gevas. In Matteus 4:2 lees ons: “En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.”
Hier sien ons ’n diep geestelike waarheid: vas bring jou op ’n plek van afhanklikheid. Dit ontneem jou van iets fisies, sodat jy meer bewus raak van jou behoefte aan God. Maar nog belangriker is wat in vers 1 staan: Jesus is deur die Gees die woestyn in gelei. Sy vas was nie ’n mensgemaakte besluit nie, maar iets wat uit gehoorsaamheid en leiding van die Heilige Gees voortgekom het. Met ander woorde, dit het by God begin, nie by Homself nie.
Ons sien ook ander voorbeelde in die Bybel. In Ester 4:16 roep Ester die volk op om te vas: “…en vas vir my; en eet en drink drie dae lank nie…”
Hier was vas gekoppel aan ’n krisis, ’n tyd waar God se ingryping dringend nodig was. Vas en gebed het hand aan hand gegaan. Dit was nie ’n ritueel nie, maar ’n uitroep na God.
Maar dan kom ons by een van die mees aangehaalde voorbeelde: Daniël. Baie mense verwys vandag na die sogenaamde “Daniël-vas”, en daar word dikwels baie spesifieke reëls daaraan gekoppel. Tog is dit baie belangrik dat ons mooi kyk na wat die Skrif werklik sê.
In Daniël 10:2-3 staan daar: “In dié dae het ek, Daniël, drie volle weke lank getreur. Smakelike spys het ek nie geëet nie, en vleis en wyn het in my mond nie gekom nie…”
Let baie mooi op wat hier geskryf staan. Daniël sê nie vir ons presies wat hy geëet het nie. Hy gee nie vir ons ’n lys van kosse nie. Hy fokus nie op ’n dieet nie. Hy sê eerder baie duidelik wat hy nie geëet het nie: geen smaaklike kos, geen vleis, geen wyn.
Hier sien ons dat die spesifieke idees wat mense vandag oor die ‘Daniël-vas’ het, dat dit wat hulle beweer wat jy presies mag en nie mag eet nie, dat dit iets is wat nie direk uit hierdie spesifieke teks vers kom nie. Mens noem dit ‘n menslike interpretasies of afleiding, nie eksplisiete Skrif nie. Dit beteken nie dat dit verkeerd is om dit só toe te pas nie, maar ons moet eerlik wees oor wat die Skrif werklik sê.
Ja, in Daniël 1:12 sien ons dat Daniël op ’n stadium groente en water geëet het:
“…gee ons groente om te eet en water om te drink.”
Maar dit was ’n ander situasie, op ’n ander tyd. Ons kan nie outomaties aanvaar dat dit presies dieselfde was as in Daniël 10 nie. Hier het die koning gesê dat hulle vir drie jaar lank, ‘n daaglikse porsie spys en wyn van die koning moes eet.
Daniël en sy vriende wou hulself nie verontreinig met die koning se kos nie. Dit beteken dat die tien dae wat hulle as ’n proef tydperk gevra het, nie net ’n korttermyn besluit was nie. Dit wys eerder op iets dieper—’n oortuiging en ’n leefstyl.
Daardie tien dae was ’n toets, maar nie ’n tydelike kompromie nie. Inteendeel, dit was juis ’n manier om te wys dat hulle nie van plan was om hulself vir die volle drie jaar—wat hulle veronderstel was om die koning se kos te eet—te verontreinig nie. Hulle wou eerder ’n ander pad volg, deur hulself te hou by eenvoudige kos en water.
Hoekom ek die drie jaar eetplan opbring, is om jouself die vraag af te vra: Hoekom sou Daniël eers ’n tien dae proef tydperk vra, net om daarna vir die volgende drie jaar die koning se kos te eet en homself te verontreinig? Dit maak nie sin nie. Dit bots met alles wat ons van sy lewe sien.
Daniël was iemand wat naby aan God geleef het. Hy het homself rein gehou voor God. Dit was nie net ’n eenmalige besluit nie—dit was ’n permanente leefstyl, ’n vasgestelde oortuiging in sy hart. Die belangrike punt is dit: die Bybel fokus nie op die presiese dieet nie, maar op die houding van die hart.
Daniël se vas was ’n daad van verootmoediging. Hy het homself voor God verneder, hom afgesonder, en die Here gesoek. Dit was nie ’n dieetplan nie, dit was ’n geestelike reaksie. Dit het uit sy hart gekom.
En dit bring ons by ’n kernwaarheid wat ons nie mag miskyk nie. In 1 Samuel 16:7 staan:
“…die HERE sien die hart aan.”
God is ’n ondersoeker van die hart. Hy kyk nie net na wat jy doen nie, maar hoekom jy dit doen. Jy kan tegnies ‘reg’ vas, maar met ’n verkeerde hart — dan mis jy die hele punt. Jy kan reg lyk aan die buitekant, maar verkeerd wees aan die binnekant.
Ons sien dit baie duidelik in Jesaja 58. Die volk het gevas, maar God was nie tevrede nie. Hoekom? Want hulle harte was nie reg nie. In vers 6 sê die Here:
“Is dit nie die vas wat Ek verkies nie: om die bande van goddeloosheid los te maak…”
Hier wys God vir ons dat ware vas nie net gaan oor kos nie. Dit gaan oor ’n lewe wat reg is, ’n hart wat sag is, en ’n wandel wat Hom eer. Jy kan vas, en steeds verkeerd leef. Jy kan vas, en steeds die punt mis.
Nou kom ons by ’n baie praktiese en belangrike punt — een wat dikwels spanning veroorsaak: Nie almal kan op dieselfde manier vas nie.
Daar is mense met gesondheidsuitdagings soos diabetes of ander toestande, waar dit gevaarlik kan wees om jou van kos te weerhou. Daar is ook mense wat finansiële uitdagings het, vir wie sekere tipe vaste eenvoudig nie haalbaar is nie.
Nou bly die vraag: Wat doen ons dan?
Is God onredelik? Verwag die Here van elkeen presies dieselfde?
Die antwoord is nee.
In Psalm 103:13-14 staan:
“Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor dié wat Hom vrees. Want Hy weet watter maaksel ons is…”
God ken jou. Hy weet waarvan jy gemaak is. Hy verstaan jou liggaam, jou omstandighede en jou beperkinge. Hy is nie ’n harde Meester wat jou wil breek nie. Hy is ’n Vader wat jou hart soek, nie net jou rituele nie.
Dit beteken egter nie dat ons vas moet afwater of vermy nie. Inteendeel, vas bly belangrik. Maar dit moet in balans wees met wysheid en gehoorsaamheid.
As iemand werklik nie kan vas van kos nie, kan daar ander vorme van vas wees Om byvoorbeeld vir ’n tydperk afstand te doen van televisie, sosiale media of enigiets wat jou aandag en tyd opneem, en daardie tyd doelbewus aan gebed en Bybelstudie toe te wy.
Maar ons moet eerlik wees: dit is nie ’n “maklike uitweg” vir iemand wat eintlik kan vas nie. Dit is nie ’n plaasvervanger vir gehoorsaamheid nie.
In Jakobus 4:17 staan: “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde.”
As jy weet die Here lei jou om te vas, en jy het die vermoë om dit te doen, dan moet jy gehoorsaam wees. Ons kan nie God se leiding verruil vir gerief nie.
Aan die ander kant, as jy regtig nie kan nie, dan sien God jou hart. In Romeine 14:12 staan daar: “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.”
Dit is ’n persoonlike verhouding. Die Heilige Gees werk met elkeen individueel. Wat Hy van jou vra, mag anders lyk as wat Hy van iemand anders vra.
Selfs iets soos om een dag ’n week te vas, al is dit net water, kan ’n kragtige tyd van afsondering wees. Dit gaan nie oor hoe groot dit is nie, maar oor hoe eg dit is.
Jesus self waarsku ons oor die houding waarmee ons vas. In Matteus 6:16-18 sê Hy dat ons nie ons vas moet wys om deur mense gesien te word nie. Ware vas is iets wat tussen jou en God gebeur.
En uiteindelik kom alles hierop neer:
God soek nie jou prestasie nie, Hy soek jou hart.
Hy soek nie perfekte reëls nie, Hy soek gehoorsaamheid.
Hy soek nie uiterlike vertonings nie, Hy soek egtheid.
Die Heilige Gees sal jou lei. Hy sal jou wys wat om te doen, hoe om dit te doen, en wanneer om dit te doen. Jou rol is om sensitief te wees vir Sy stem en bereid te wees om gehoorsaam te wees, selfs wanneer dit ongemaklik is.
Laat ons dus oppas om nie vas te reduseer tot ’n stel reëls of ’n dieetplan nie. Laat ons dit eerder sien as wat dit werklik is: ’n geleentheid om nader aan God te kom, om ons harte voor Hom uit te stort, en om ons lewens weer in lyn te bring met Sy wil.
Laat ons dus nie vra: “Doen ek dit reg?” nie, maar eerder: “Is my hart reg voor God?”
As jy iets hieruit ervaar het, of die Here jou op ’n sekere manier oor vas gelei het, deel dit gerus onder in die kommentaar. Kom ons bou mekaar op met wat Woord-gefundeerd is.
Share the devotional with someone.
Daar is groot openbaring in die dagstukkie.
Baie dankie dit is goed uiteengesit en bring meer duidelikheid.
Baie dankie vd openbaring. Goed verduidelik.