Sy het alleen geloop.
Nie omdat sy daarvan gehou het nie, maar omdat dit veiliger was. Die son het hoog gehang — die uur terwyl ander vroue reeds klaar water geskep het en terug was in die skadu, besig met hul gesprekke. Sy het gewag vir die hitte, want hitte kyk jou nie aan nie, hitte onthou ook nie van gister nie.
In haar hand was ’n kruik, en in haar hart was stilte. Nie die sagte stilte van rus nie, maar die swaar stilte van dinge wat te lank sonder woorde geleef het. Sy het gekom met ’n kruik, wat sy gedra het met haar hele lewe. ’n Kruik vol stilte, vol verlange en vol dors wat sy leer wegsteek het.
Die pad na die put was bekend; nie net in afstand nie, maar in betekenis. Dis die plek waar sy telkens gekom het om haar dors te stil, net om weer dors te word. Dis water wat nie hou nie, wat net vir ’n rukkie help. Soos verhoudings wat beloftes fluister en dan verdwyn. Soos hoop wat elke keer effens minder word.
Toe sien sy Hom.
’n Man wat daar sit, alleen en moeg.
Hy sit nie bo-op die put nie, maar langs die put, op die vlak waar mense sit wat niks het om voor te gee nie. Hy kyk haar nie skerp aan nie, en ook beoordeel Hy haar nie, Hy wag net.
Wat alles op daardie tydstip verander is nie sy teenwoordigheid nie, maar sy stem. Dit is waar Jesus vir haar in Johannes 4:7 gesê het: “Gee My water om te drink.”
Dis ’n oomblik wat die wêreld effens laat kantel. Die Een wat die see geskep het, vra vir water. Die Een wat reën beveel het, sit dors. God maak Homself afhanklik van ’n vrou wat gewoond is daaraan dat mense haar vermy.
Hy begin nie met haar foute of by herstel nie, Hy begin met verhouding. Met ’n versoek wat sag genoeg is om nie te breek nie, maar eerlik genoeg is om nie te ontwyk nie.
Sy probeer afstand hou — praat oor gebruike, oor geskiedenis, en wie met wie mag praat. Want dis veiliger om oor dinge te praat as oor jouself, maar Jesus laat Hom nie wegpraat nie. Hy hoor die woorde, maar Hy luister na die dors daaronder.
En dan sê Hy, waar Hy in Johannes 4:10 onthul dat as sy geweet het wie Hy is, sy Hom sou vra, en Hy sou vir haar lewende water gegee het.
Nie water wat jy moet dra nie, maar water wat jou dra.
Nie water wat opraak nie, maar water wat binne jou begin vloei.
Iets in haar het begin skuif. Sy hoor dit, maar verstaan dit nog nie. Sy het haar hele lewe lank geleer om net genoeg te verwag om nie weer teleurgestel te word nie. Sy ken dors, sy ken skadu’s, en ook ken sy oorlewing, maar hierdie… hierdie klink soos volheid.
Jesus raak sag aan die waarheid van haar lewe; nie om haar te ontbloot nie, maar om haar te ontmoet. Toe Hy haar verhaal opgebring het, toe doen Hy dit sonder skande en sonder veroordeling. Hy sê dit nie om haar kleiner te maak nie, maar om haar vry te maak.
Toe Jesus in Johannes 4:14 gesê het dat “elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie”, is dit nie ’n belofte van pynloosheid nie, maar ’n belofte van ’n nuwe bron, ’n lewe wat nie langer afhanklik is van buite nie, maar gedra word van binne.
En dalk lê die diepste geheim van hierdie ontmoeting juis hier in dat Jesus nie wag dat sy eers reg is nie, Hy ontmoet haar soos sy is, en dit is daardie ontmoeting wat alles verander.
Die wonder is nie dat Hy haar geken het nie, die wonder is dat Hy gebly het. Dat Hy nie opgestaan en weggeloop het toe haar stilte begin praat het nie. Dat Hy daar gesit het, langs die put, saam met haar waarheid.
Vir die eerste keer staan sy nie alleen by hierdie put nie.
Sy word gesien.
Sy word geken.
Maar meer as als, sy word nie weggejaag nie.
Sy het gekom om water te skep, maar sy het weggegaan sonder haar kruik. Nie uit vergeetagtigheid nie, maar uit bevryding. Waar Jesus Homself in Johannes 4:26 aan haar openbaar as die Messias, val iets swaar uit haar hand. Nie net ‘n Kruik nie, maar ook ’n ou manier van leef, maar ook ’n ou storie. Nie sommer enige ou storie nie, ’n storie van aanhoudende dors.
Die vrou wat mense vermy het, hardloop nou na hulle toe. Die vrou wat in stilte gekom het, word ’n stem. Die vrou met ’n kruik vol stilte, word ’n draer van Lewende Waters.
Miskien sit Jesus vandag nog by jou put, by die plekke waar jy dors raak, waar jy stil word, waar jy leer om te oorleef sonder om regtig te leef.
Hy sit nie haastig nie.
Hy sit nie hard nie.
Hy sit nie veroordelend nie.
Hy wag.
En dalk hoor jy Hom vandag ook sê: “Gee My water om te drink.”
Nie omdat Hy niks het nie, maar omdat Hy jou nader nooi, want soms is dit juis wanneer God iets van jou vra, dat Hy besig is om jou kruik oop te maak sodat Hy dit kan vul met iets wat nie weer stil raak nie.
Share the devotional with someone.
Dankie. Laat my net weer besef van ons loop met n kruik vol stilte, dinge wat mens Diep binne weg bêre en met die wêreld se geraas hoor mens nie die Here nie, maar
Hy sit nie haastig nie.
Hy sit nie hard nie.
Hy sit nie veroordelend nie.
Hy wag
Dankie weereens die bewis making om te luister nie na die wêreld en sy geraas nie maar die Here se fluisterende stem.