Daar is iets besonders aan die woorde van Jakobus. Dit sny deur oppervlakkigheid en bring ons reguit na die hart van God. Jakobus 1 begin nie met ’n sagte uitnodiging nie, maar met ’n oproep tot ’n dieper, sterker, meer standvastige geloof. En tog, onder elke vermaning, elke uitdaging, klop daar een waarheid: God se liefde is nie broos nie, maar standvastig.
Jakobus 1:2 sê: “AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val.”
Hierdie woorde voel amper teenstrydig met wat ons ervaar. Hoe kan beproewing ooit vreugde bring? Maar Jakobus wys ons iets groter as ons onmiddellike pyn. Hy wys ons God se doel. Beproewing is nie ’n teken dat God ver is nie; dit is dikwels die plek waar Hy die naaste werk. Soos goud in vuur gelouter word, so word ons geloof gesuiwer. Nie om ons te breek nie, maar om ons te versterk.
God se liefde word nie bewys deur die afwesigheid van swaarkry nie, maar deur Sy teenwoordigheid daarin. Hy los ons nie in die storm nie, Hy vorm ons daarin.
Waar Jakobuas 1.4 nou weer sê: “Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
God kyk nie net na vandag nie. Hy sien die voltooide werk. Hy sien wie jy kan wees wanneer jou geloof volwasse geword het, wanneer jy nie meer deur elke wind van omstandighede geslinger word nie, maar vas staan. Sy liefde is nie haastig nie, maar doelgerig. Dit werk stadig en wortel diep in elkeen se lewens.
En dan kom daardie troosvolle uitnodiging in Jakobus 1:5 wat sê: “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid…”
Hier sien ons die sagte hart van God. Hy verwyt nie. Hy hou nie terug nie. Hy gee “…aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt…” Dit beteken dat jy nie eers perfek hoef te wees om na Hom toe te kom nie. Jy hoef nie jou lewe eers reg te kry voordat jy Hom vra nie. Jy kom soos jy is — onvolmaak, onseker, en honger na leiding — en Hy gee.
Dit noem mens liefde. Nie liefde wat wag dat jy beter moet word nie, maar een wat jou help om beter te word.
Maar Jakobus waarsku ons ook in Jakobus 1:6: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel…”
Want twyfel ruk ons los. Dit maak dat ons soos ’n golf van die see is — onstandvastig, wat heen en weer geslinger word. God se hart is dat ons geanker sal wees. Nie in ons eie vermoëns nie, maar in Sy karakter. Hy is onveranderlik. Sy beloftes wankel nie. Sy liefde is nie vandag daar en môre weg nie.
Wanneer jy begin verstaan dat God werklik goed is — nie net in woorde nie, maar in wese — dan begin jou hart rus. Dan raak geloof nie ’n poging nie, maar ’n reaksie op wie Hy is.
Jakobus 1:9 sê vir ons: “Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid…”
God draai die wêreld se waardes om. Die een wat min het, is ryk in Hom. Die een wat swak voel, word versterk deur Sy genade. Die een wat gebroke is, word deur Sy liefde herstel. Dit is nie die wêreld se logika nie, maar die koninkryk van God.
En dan kom een van die mees onthullende verse oor God se hart navore in Jakobus 1:16-17 wat sê: “Moenie dwaal nie, my geliefde broeders. Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte…”
Hier is die waarheid wat alles anker: God is goed, en die Bron van alles wat goed is. Hy is nie net partykeer goed of wisselvallig nie. Maar: “…by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”
Dit beteken: God se liefde vir jou verander nie wanneer jou omstandighede verander nie. Hy is nie lig in die een seisoen en donker in ’n ander nie. Hy is konstant. Betroubaar. Vas.
Wanneer jy dit glo — regtig glo — dan begin jou lewe verander. Dan begin jy anders kyk na swaarkry, en dan ook nie net anders bid nie, maar ook anders leef.
Jakobus 1:18 verduidelik dit so mooi: “Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.”
Jy is nie ’n toeval nie. Jy is voortgebring deur God se wil, Sy woord en liefde. Daar is ’n doel in jou bestaan. ’n Identiteit wat nie deur mense of omstandighede bepaal word nie, maar deur God self.
En dan kom die praktiese deel in Jakobus 1:22 wat sê: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.”
God se liefde is nie net iets om oor te dink nie, maar iets om in te leef. Wanneer jy Sy woord hoor, nooi Hy jou om dit deel van jou lewe te maak. Nie uit dwang nie, maar uit verhouding. Want ware liefde wil nie net antwoord nie, maar dit wil reageer en voluit leef.
Om net te hoor en nie te doen nie, is soos om in ’n spieël te kyk en dan te vergeet hoe jy lyk. Maar wanneer jy in God se woord bly en jy dit leef, gebeur daar iets diep: jy word verander en begin soos die Een lyk wat jou liefhet.
Jakobus 1:27 sê: “Reine en onbesmette godsdiens voor God en die Vader is dít: om wese en weduwees in hulle verdrukking te besoek en jou vlekkeloos te bewaar van die wêreld.”
Hier sien ons die hart van God se liefde in aksie. Dit is nie net ’n innerlike ervaring nie, maar dit raak mense ook aan. Dit sien die gebrokenes raak. Dit beweeg na hulle toe. Dit dra. Dit gee. Dit leef heilig, nie uit vrees nie, maar uit liefde.
God se liefde is nie ’n teorie nie. Dit is ’n lewende werklikheid.
En ja, jy word genooi om daarin vasgeanker te wees.
Nie in jou gevoelens nie of in jou omstandighede nie, maar in die onveranderlike, standvastige, diep en alles-oorwinnende liefde van God.
Share the devotional with someone.