Daar was ’n oggend in Jerusalem wat die wêreld vir ewig verander het. Nie met die geluid van trompette of die optog van konings nie, maar met die asem van God.
In ’n eenvoudige bovertrek het ’n groep gewone mense gewag. Hulle harte was vol herinneringe. Herinneringe soos die kruis op Golgota, die verwonder van die leë graf, en die oomblik toe hulle vir Jesus sien opvaar na die hemel. Voor Hy gegaan het, het Hy vir hulle ’n belofte gegee, ‘n belofte dat hulle nie alleen sou wees nie, dat die Vader Sy Gees sal stuur.
Daarom het hulle gewag.
Nie in ongeduld nie, maar in gebed. Met ‘n verwagting. Met harte wat oop was vir God.
Die Skrif sê vir ons in Handelinge 2:1:
“En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.”
Daardie woord “eendragtig” dra iets besonders in sigself. Hulle was nie net in dieselfde vertrek nie; maar saam in geloof, in verlange en hoop.
Toe gebeur dit.
Skielik breek die hemel die stilte. Handelinge 2:2 vertel:
“En daar kom skielik uit die hemel ’n geluid soos van ’n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.”
Dit was asof die asem van God self deur daardie kamer beweeg het. ’n Hemelse wind wat nie net die lug gevul het nie, maar ook hul harte.
Toe sien hulle iets wat hulle nooit sou vergeet nie. Handelinge 2:3 sê:
“Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.”
Vuur wat rus op mense.
Nie vuur wat verteer nie, maar vuur wat aansteek. Vuur wat God se teenwoordigheid sigbaar maak.
En toe gebeur die wonder. Handelinge 2:4 sê:
“En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.”
Daardie tale was nie bloot vreemde klanke nie. Dit was die teken dat God se Gees besig was om iets nuuts te doen. Hy het mense begin vul met Sy lewe, Sy krag en Sy gawes.
Dit was nog altyd God se manier: wanneer Hy ’n mens se lewe aanraak, laat Hy daardie lewe nooit leeg nie.
Later wys die Woord van God hoe diep hierdie waarheid strek. Wanneer ’n mens in Christus ingaan, as jy jou lewe aan Hom oorgee en deur die doop saam met Hom begrawe is en tot ’n nuwe lewe opgewek word, dan kom woon die Gees van God in daardie hart. En saam met Sy teenwoordigheid bring Hy gawes: geestelike gawes wat Hy gee om Sy kerk te bou en Sy Naam groot te maak, soos wat gebeur het met die dissipels in die bovertrek.
Die apostel Paulus skryf in 1 Korinthiërs 12:4:
“Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees.”
Die Gees werk op baie maniere. Party ontvang wysheid, ander geloof, ander genesing, maar een van die tekens wat reeds daar in die bovertrek sigbaar geword het, was die gawe om in tale te spreek, ’n taal wat nie uit menslike verstand gebore word nie, maar uit ’n hart wat deur die Gees aangeraak word.
Dit was nie ’n vertoning nie.
Dit was aanbidding.
Harte wat oorloop van God se teenwoordigheid.
En kyk wat gebeur daarna: mense wat voorheen bang was, word skielik vrymoedig. Petrus, wat vroeër vir Jesus verloën het, staan op en verkondig die evangelie met krag. Duisende mense word aangeraak.
Dit is wat gebeur wanneer die Gees van God ’n mens se lewe vul.
Jesus het reeds met Sy hemelvaart hierdie belofte uitgespreek in Handelinge 1:8:
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees…”
Krag.
Nie die krag van menslike vermoë nie, maar die krag van God wat deur ’n mens werk.
Die Gees verander harte.
Hy verander woorde.
En Hy verander lewens.
Miskien is dit die mooiste geheim van Pinkster: God kies om deur mense te werk. Gewone mense. Mense soos ek en jy.
Paulus herinner ons later in 1 Korinthiërs 6:19 aan hierdie wonderlike waarheid:
“Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie?”
Dink daaraan vir ’n oomblik.
Die Gees wat daardie kamer gevul het.
Die Gees wat soos vuur op die dissipels gerus het.
Die Gees wat hulle harte laat oorloop het met lof en nuwe tale…
Daardie selfde Gees woon vandag nog in God se kinders.
Die hartklop van God klop steeds in mense wat Hom liefhet.
Maar soms raak ons stil. Soms raak ons moeg. Soms vergeet ons dat die Gees van God in ons leef.
Dan roep Pinkster ons weer terug.
Terug na ’n plek van wag.
Terug na ’n plek van gebed.
Terug na ’n hart wat oop is vir God.
Want die Gees van God het nooit opgehou beweeg nie.
Hy blaas nog soos ’n wind uit die hemel om harte aan te steek met ’n heilige vuur, en ook gee Hy nog steeds gawes aan Sy kinders.
En elke keer wanneer ’n mens fluister:
“Here, vul my weer,”
gebeur iets wonderliks.
Die hemel raak weer die aarde.
En die groot dade van God begin weer deur gewone mense gehoor word.
Want dit is waar alles begin.
By een eenvoudige stap van geloof.
Handelinge 2:38 sê:
“Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.”
Share the devotional with someone.