Daar is Bybelboeke wat skree met wonderwerke, en dan is daar Rut — ’n boek wat fluister. Geen vuur uit die hemel of ’n see wat oopgaan nie, net gewone mense en ’n God wat so diep in die agtergrond werk dat jy Hom amper miskyk. En tog, as jy mooi kyk, sien jy: God se hart klop op elke bladsy.
Rut se verhaal begin in verlies, hongersnood, dood en leë arms. Naómi se wêreld val so uitmekaar dat sy selfs sê dat sy nie meer Naómi, wat “my vreugde, lieflikheid en aangenaam” beteken, genoem wil word nie, maar Mara, wat “bitter, smart of hartseer” beteken, omdat die Almagtige haar met swaarheid gevul het. Dis eerlik en rou — die rou wat God nie wegwys nie.
Maar toe gebeur iets heiligs in Rut 1 — nie ’n wonderwerk nie, maar ’n keuse. Toe Orpa die besluit gemaak het om terug te draai, het Rut die besluit geneem om te bly. Rut gee nie ’n vroom preek nie; sy offer haar lewe. Sy sê vir Naómi: Waar jy gaan, sal ek gaan; waar jy bly, sal ek bly; jou volk is my volk, en jou God my God. In daardie oomblik kies Rut nie net vir Naómi nie; sy kies ook die God van Israel sonder enige waarborge en sonder beloftes van gemak.
Dis hier waar God Sy hart begin wys. God werk dikwels deur mense wat besluit om lief te hê wanneer dit niks vir hulle in stoor het nie — net ware liefde.
Toe Rut en Naómi Bethlehem binnegaan, was dit oestyd. Dit was nie toevallig nie, want God se voorsienigheid skree nooit uit nie; dit fluister op die regte tyd. Rut maak toe die besluit om are te gaan optel, wat die laagste van werk vir arm mense is. Rut 2 sê amper terloops dat sy “toevallig” op die stuk land van Boas beland het. Maar daar is geen toevallighede in God se koninkryk nie, net goddelike sinchronisasie.
Boas sien haar raak. Nie net haar arbeid nie, maar haar hart. Hy sê vir haar dat hy gehoor het van alles wat sy vir haar skoonmoeder gedoen het — hoe sy haar volk en haar vaderhuis verlaat het om te kom na ’n volk wat sy nie geken het nie. En net daar bid hy oor haar, nie formeel nie, maar vaderlik: dat die Here haar sal beloon, en dat sy skuiling sal vind onder Sy vlerke. Dis God se hart — ’n God wat mense onder Sy vlerke intrek lank voor hulle besef hoe kwesbaar hulle is.
Maar Rut se storie gaan nie net oor oorlewing nie; dit gaan oor rus.
Toe sê haar skoonmoeder Naómi vir haar in Rut 3:1: “My dogter, sal ek nie vir jou ‘n rusplek soek, dat dit goed met jou kan gaan nie?” Dis nie net ’n plan vir huwelik nie, dis die hart van God wat deur ’n ou vrou praat. God is ’n God wat rus soek vir Sy kinders. Nie net fisiese rus nie, maar sielsrus. ’n Plek waar jy nie hoef te veg om raakgesien te word nie.
Op die dorsvloer lê Rut haarself neer aan Boas se voete — nie as manipulasie nie, maar as oorgawe. Sy sê in wese: “Ek vertrou jou.” En Boas reageer nie met misbruik nie, maar met eer. Hy sê dat almal in die stad weet dat sy ’n deugsame vrou is. God se hart word duidelik: Hy eer nederigheid; Hy beskerm dié wat hulself toevertrou.
Maar selfs hier wag God. Daar is nog ’n proses wat moet afspeel. God jaag nie Sy beloftes deur onheilige kortpaaie nie. Hy doen dinge reg, selfs wanneer dit langer neem. En wanneer Boas uiteindelik die losser word, word daar nie net aan Rut voorsien nie — sy word ingeskakel in iets veel groter as haar eie storie.
Rut, die Moabitiese vrou, ’n buitestaander, word die oumagrootjie van Dawid. En uit Dawid se lyn kom Jesus, die Verlosser. God se hart was nog altyd inklusief. Wat mense uitsluit, trek God nader. Wat die wêreld afskryf, weef God in Sy verlossingsplan in.
Rut se lewe leer ons dat gehoorsaamheid in die klein dinge ewigheidswaarde het. Dat God se hand dikwels die duidelikste in die allerdaags is. Dat liefde, trou en nederigheid kragtiger is as dramatiese wonderwerke.
Miskien lees jy vandag Rut en voel jy soos Naómi — leeg, moeg en bitter. Of dalk soos Rut — in ’n vreemde land, net aan die oorlewing. God se hart klop ook vir jou. Hy is steeds besig om ’n rusplek voor te berei, sodat dit goed met jou kan gaan. Selfs wanneer jy dit nog nie sien nie.
God is nooit haastig nie, nooit laat nie, en altyd betyds. Dit is Sy tyd, nie ons s’n nie.
Share the devotional with someone.