Ons leef in ’n wêreld waar dinge soms onseker en swaar voel, waar ons harte maklik vol vrae raak oor wat ons rondom ons sien en beleef. Tog bly een waarheid onveranderd: God het nie verander nie. Hy is steeds getrou, steeds regverdig, en steeds naby aan elkeen wat Hom soek.

Hy is nie ’n ver af God wat niks raaksien nie. Hy is die God wat hoor, wat sien, en wat werk — selfs wanneer ons dit nie altyd kan raaksien of verstaan nie.

Wanneer ons na die boek van Hábakuk kyk, ontmoet ons ’n man wat ook met vrae na God toe gekom het oor die onreg in die land. Hy het nie alles verstaan wat rondom hom gebeur nie. Hy het dinge gesien wat hom ontstel het. Maar eerder as om weg te draai of stil te bly, het hy gekies om na God toe te gaan.

In Hábakuk 1:2 roep hy uit: “Hoe lank, Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie?” Dit is nie die woorde van iemand sonder geloof nie — dit is die woorde van iemand wat glo dat God wel hoor. Hy bring sy vrae eerlik, sonder om dit weg te steek. Hy probeer nie voorgee dat alles reg is nie, hy kom soos hy is.

En dit is vir ons ’n belangrike herinnering: God nooi ons nie om in ons perfektheid na Hom toe te kom nie, maar om in eerlikheid na ons toe te kom.

Hábakuk kyk na sy wêreld en sien dinge wat nie reg is nie. Hy sien onreg, verwarring, en mense wat doen soos hulle wil. Dit is iets waarmee ons ook kan identifiseer. Daar is tye waar ons ook wonder oor wat ons sien en beleef, en waar ons harte vrae begin vra.

Maar hier is wat Hábakuk anders gedoen het: hy hou nie sy vrae binne homself nie. Hy vat dit na God toe, maar meer as dit — hy bly daar.

In Hábakuk 2:1 sê hy: “OP my wagtoring wil ek gaan staan en op ‘n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord.” Hy kies om te wag. Om stil te word. Om te luister. Hy verwag dat God sal antwoord.

En God doen.

In Hábakuk 1:5 sê God: “Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie.” Met ander woorde, God sê vir Hábakuk: al lyk dit vir julle asof niks gebeur nie — Ek is besig om te werk.

Dit is ’n waarheid waaraan ons vandag ook aan kan vashou. Selfs wanneer dinge vir ons onseker lyk, soos byvoorbeeld in ons land, selfs wanneer ons nie verstaan wat aangaan nie, bly God besig. Sy werk stop nooit en Sy planne staan vas.

Miskien is die vraag nie of God werk nie, maar of ons nog ons oë na Hom toe draai.

Want Hábakuk wys vir ons iets kosbaars: geloof beteken nie dat ons alles verstaan nie, maar eerder dat ons kies om na God toe te bly draai, selfs wanneer ons nie antwoorde het nie.

En dit bring ons by iets dieper.

God begin dikwels Sy werk nie by strukture of omstandighede nie, maar in harte wat na Hom toe draai. Wanneer ’n mens weer stil word voor Hom, wanneer ’n mens weer begin luister, wanneer ’n mens weer erken hoe afhanklik jy is — is daar waar iets begin verander.

Nie omdat ons God beheer nie, maar omdat ons onsself oopmaak vir Sy werk.

Daar is ’n sagte uitnodiging in hierdie verhaal — nie ’n harde eis nie, maar ’n roepstem van God se hart af: Kom nader en bring jou probleme na My toe.

Nie net jou dankbaarheid nie, maar jou vrae ook. Net so ook nie net jou sekerheid nie, maar ook jou onsekerheid. So kan ons ook sê: Nie net jou vreugde nie, maar ook jou swaar tye.

Want God is nie afgeskrik deur ons eerlikheid nie, want dit is juis waar Hy ons ontmoet.

En tog is daar ’n belangrike waarheid waaraan ons moet vashou: ons kom nie na God toe om Hom te beheer of uitkomste af te dwing nie. Ons kom omdat ons Hom nodig het. Ons kom omdat Hy God is, en ons net mens is.

In Hábakuk 2:4 staan: “Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.” Dit is nie ’n geloof wat wag vir alles om reg te wees voordat dit vertrou nie. Dit is ’n geloof wat kies om vas te hou aan God, selfs wanneer dinge nog nie sin maak nie.

Dit is ’n lewende, asemende geloof wat ’n verhouding met God is.

Teen die einde van die boek sien ons hoe Hábakuk se hart verander het. Nie noodwendig omdat sy omstandighede onmiddellik verander het nie, maar omdat sy perspektief verander het.

In Hábakuk 3:2 sê hy: “Here, ek het die tyding aangaande U verneem, ek het gevrees! Here, roep u werk in die lewe in die midde van die jare; in die midde van die jare laat dit bekend word. In toorn, dink aan ontferming.” Hy begin weer sien dat God heilig, groot, regverdig, en volkome betroubaar is.

En dan kom hierdie kragtige woorde in Hábakuk 3:17–18: “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie — nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.”

Dit is nie ’n ontkenning van realiteit of om voor te gee dat alles reg is nie. Dit is ’n diep, vaste besluit om God te vertrou, maak nie saak wat rondom hom gebeur nie.

Dit is geloof.

En hy eindig met hierdie pragtige beeld in Hábakuk 3:19 wat sê: “Die Here Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.” Dit beteken: selfs wanneer die pad moeilik is, gee God die krag om vas te staan en aan te hou beweeg.

Miskien is dit ook waar ons vandag is.

Nie noodwendig met al die antwoorde of met sekerheid oor alles nie, maar met ’n uitnodiging om weer na God toe te draai.

Om weer stil te word, te luister en te vertrou, want God werk — selfs nou, in ons tyd waar dinge anders lyk.

En dalk gaan ons nie alles dadelik sien of verstaan nie, maar ons kan weet: Hy bly getrou aan wie Hy is.

Miskien is vandag nie die dag waar alles verander nie…
maar dalk is dit die dag waar ’n hart weer draai.

Waar iemand weer begin bid, weer stil word voor God en weer sê: Here… ek bring dit na U toe.

Want die regverdige — deur sy geloof — sal hy lewe.