Daar is ’n heiligheid aan die huwelik wat baie mense vandag nie meer raaksien nie.
Dit het stilweg begin verdwyn. Nie oornag nie, maar stadig. In die manier hoe ons praat oor liefde, hoe maklik ons met verhoudings opgee, en hoe egskeidings ‘n normaliteit geword het — selfs onder mense wat sê hulle dien die Here.
Maar die vraag bly: Wat sê God?
“Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”
Hierdie is nie net mooi woorde vir ’n troue nie. Dit is ’n geestelike realiteit. Wanneer twee mense ’n huwelik betree, gebeur daar iets wat geen mens ten volle kan verstaan nie — God self voeg hulle saam. Hy maak een waar daar twee was.
En wat Hy saamvoeg, is nie bedoel om deur mense gebreek te word nie.
Ons leef egter in ’n wêreld waar gevoelens koning geword het. Waar mense sê: “As ek nie meer gelukkig is nie, hoekom moet ek bly?” Waar liefde gemeet word aan hoe ek voel, eerder as aan wat ek belowe het.
Maar God se Woord bring ons terug na iets baie dieper, en dit noem ons ‘n verbond.
’n Verbond sê nie: “Ek bly solank dit maklik is” nie.
’n Verbond sê: “Ek bly, selfs wanneer dit moeilik is.”
Dit is hoe God met ons werk. Hy is ’n barmhartige God
“Want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
Selfs wanneer ons struikel. Selfs wanneer ons afdwaal. Selfs wanneer ons ontrou is — bly Hy getrou. Nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat Hy ’n God van verbond is.
En tog… wanneer dit by ons huwelike kom, wil ons soms die makliker pad kies.
“Want Ek haat egskeiding, sê die Here, die God van Israel, en dat ‘n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die Here van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.”
Dit is sterk woorde. Woorde wat nie geïgnoreer kan word nie. God haat egskeiding — nie omdat Hy mense wil straf nie, maar omdat Hy die verwoesting sien wat dit bring. Hy sien die gebroke harte, die skuld, die verwarring, die pyn wat oorbly lank nadat die papierwerk klaar is.
Egskeiding sny deur iets wat Hy self saamgebind het.
Maar daar is nog iets wat ons moet verstaan — iets wat baie mense miskyk.
Baie huwelike begin nie breek met ’n groot gebeurtenis nie. Dit begin stil. Onsigbaar. In gedagtes.
Daar is ’n vyand wat nie rus nie.
“MAAR die slang was listiger as al die diere van die veld wat die Here God gemaak het.”
Van die begin af werk hy nie met oop, duidelike leuens nie, maar met die halwe waarhede. Met ‘n fluisteringe, met subtiele gedagtes wat soos waarheid voel.
Hy kom nie en sê: “Jou huwelik moet eindig” nie.
Hy fluister:
“Jou man gee jou nie aandag nie.”
“Jou vrou verstaan jou nie.”
“Jy verdien beter.”
“Daar is iemand anders wat jou gelukkiger sal maak.”
En dit klink… amper waar.
Maar wat hy nie sê nie, is net so belangrik.
Hy sê nie:
“Wanneer laas het jy self moeite gedoen?”
“Wanneer laas het jy werklik geluister?”
“Wanneer laas het jy liefgehad sonder om iets terug te verwag?”
Hy gee net die helfte — want hy weet die mens sal self die res invul.
En so begin iets gevaarliks gebeur.
“Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde, en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”
Die vyand plant die saad, maar ons kies of ons dit water gee.
Die vyand begin selde by die groot val. Hy begin by iets klein — iets wat onskuldig lyk.
Hy gaan nie vir jou sê:
“Vernietig jou lewe” nie.
Hy sê:
“Net een.”
“Net vandag.”
“Net hierdie keer.”
Soos met iets eenvoudig soos drank.
Hy fluister nie: “Drink die hele bottel” nie.
Hy fluister: “Wat is een bier nou? Dis nie so erg nie.”
En daardie een gedagte… lyk onskuldig.
Maar as dit nie getoets word nie, as dit nie gebring word onder God se waarheid nie, begin dit groei.
Een word twee.
Twee word ’n gewoonte.
’n Gewoonte word ’n vastrapplek.
En voor jy besef, het iets kleins iets groot geword.
So werk dit ook in huwelike.
Dit begin nie by egskeiding nie.
Dit begin by ’n gedagte.
“Hy gee nie meer aandag nie.”
“Sy waardeer my nie.”
“Ek verdien beter.”
En as daardie gedagtes nie gevang word nie, nie getoets word nie, nie reggestel word nie — begin dit vorm aanneem.
“Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,”
Dit is waar die stryd lê: nie net in dade nie, maar in gedagtes.
Want as die gedagte nie gestuit word nie, sal die daad volg.
Die vyand weet dit. Daarom werk hy sag en geduldig in stilte waar ons dit nie agterkom nie.
Maar God roep ons om wakker te wees. Om nie elke gedagte sommer te glo nie. Om dit te toets aan Sy Woord.
Want wat klein begin…
kan groot eindig.
En wat vandag net ’n fluistering is…
kan môre ’n besluit wees wat nie maklik omkeer nie.
Daardie klein gedagte begin groei.
Jy begin dinge raaksien wat jy nie voorheen gesien het nie.
Jy begin stilte interpreteer as verwerping.
Jy begin afstand voel — en daardie gevoel word jou waarheid.
“Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”
Ons eie hart kan ons mislei. Ons eie gedagtes kan ons wegtrek van wat werklik is.
En voor jy jou kom kry, begin daar dinge bestaan wat nooit werklik daar was nie.
’n Blik word verkeerd gelees.
’n Stilte word verkeerd verstaan.
’n Teleurstelling word ’n storie.
En in plaas daarvan om na mekaar toe te draai, begin mense wegdraai. Hulle begin kyk na iets anders. Iets wat beter lyk. Iets wat minder seer maak.
Maar baie keer is dit net nog ’n leuen — net mooier verpak.
“GELIEFDES, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is”
Nie elke gedagte is waarheid nie, en nie elke gevoel is van God nie.
Soms is dit ’n fluistering wat daarop gemik is om te verdeel wat God saamgevoeg het.
En dit werk.
Want wanneer afstand begin groei, doen mense nie altyd die moeilike werk om dinge reg te maak nie. Hulle praat nie meer nie, bid nie meer saam nie, en veg nie vir die huwelik nie.
Hulle raak net stil, en in daardie stilte begin ander dinge hard klink.
Aandag van buite.
Vergelykings.
Verlange na iets “beter.”
Maar wat lyk soos ’n uitweg, is dikwels net ’n val.
“Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”
Die vyand weet hoe vatbaar die mens is. Hy weet ons sal self die storie klaarmaak as hy net die begin gee.
En so word huwelike nie net gebreek deur groot sondes nie, maar deur klein, ongesproke leuens wat met tyd wortel skiet.
Maar hier is die waarheid:
“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”
Waar lig inkom, verloor die leuen sy krag.
Waar eerlikheid kom, begin herstel moontlik word.
Maar dit vra iets van ons.
Dit vra dat ons ophou na die ander persoon te kyk, en na onsself te begin kyk.
“En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?”
Dis maklik om te sê: “Hy is die probleem.”
Dis maklik om te sê: “Sy het verander.”
Maar wat van my?
Wanneer laas het ek werklik liefgehad?
Wanneer laas het ek vergewe?
Wanneer laas het ek probeer bou, eerder as breek?
Wanneer laas het ek moeite gedoen?
“Die liefde is lankmoedig en vriendelik, die liefde is nie jaloers nie, die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nimmermeer”
Hierdie is nie net mooi woorde nie. Dit is ’n standaard, ’n spieël vir elkeen om introspeksie te doen.
Want die grootste bedreiging vir ’n huwelik is nie altyd die ander persoon nie: dit is selfsug.
Wanneer “ek” belangriker word as “ons,” begin die verbond kraak.
Jesus sê:
“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”
Dit geld ook in die huwelik.
Jy kan nie ’n sterk huwelik hê sonder selfverloëning nie. Jy kan nie liefhê sonder opoffering nie.
Die wêreld sê: “Jy verdien beter.”
God sê: “Wees getrou.”
Die wêreld sê: “Volg jou hart.”
God sê: “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die Here, en wyk af van die kwaad”
Want jou hart kan jou mislei.
Jou gevoelens kan jou lei na plekke wat lyk soos lewe, maar eindig in gebrokenheid.
God se pad is nie altyd maklik nie. Maar dit is reg.
“Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het, soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.”
Vergifnis is moeilik. Soms voel dit onmoontlik.
Maar sonder vergifnis, bly die wond oop.
Sonder genade, bly die hart hard.
Dit beteken nie sonde word goedgekeur nie. Dit beteken ook nie pyn word geïgnoreer nie. Maar dit beteken dat God altyd ’n pad van herstel ooplaat vir die wat bereid is om Hom te volg.
Daar is hoop.
Nie omdat mense perfek is nie — maar omdat God getrou is.
“Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag, hulle vaar op met vleuels soos die arende, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
Miskien voel jy moeg of dat jy al alles probeer het. Of miskien lyk dit of daar niks oor is nie, maar God is nie klaar nie.
“En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied, en ‘n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.”
Wanneer God die derde snoer is, verander alles.
Wat gebreek lyk, kan herstel. En wat koud geraak het, kan weer lewe kry. Maar dit begin met ’n besluit. ’n Besluit om nie die fluisteringe te glo nie, om die waarheid te soek en om vas te hou, selfs wanneer dit moeilik is.
Egskeiding is nie iets om ligtelik oor te dink nie. Dit is nie net ’n uitweg nie. Dit is ’n skeur in iets wat God heilig gemaak het.
En dalk is dit vandag die vraag wat elkeen moet vra:
Is ek besig om te bou, of om stadig af te breek?
Is ek besig om die waarheid of fluisteringe te glo?
Of is ek besig om vas te hou, of reeds los te laat in my hart?
“Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”
Baie huwelike breek nie in ’n dag nie. Hulle breek stadig, in gedagtes, in afstand en stilte. Net soos hulle stadig maar seker afgebreek word, kan hulle stadig maar seker weer herstel word. In gehoorsaamheid, in eerlikheid, en in gebed.
“dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus”
Moenie te gou opgee nie.
Moenie te gou besluit dat dit verby is nie.
Moenie die krag van God onderskat nie.
Want wat God saamgevoeg het…
is steeds kosbaar in Sy oë.
En Hy roep ons terug —
na die waarheid,
na getrouheid,
na Hom toe.
Share the devotional with someone.
Dit begin stil. Onsigbaar. In gedagtes.
Ja dit baie waar. Dit waarom dit ook belangrik om die volle wapenrusting daagliks aan te trek.
Baie dankie vir die skrywe. Om mens net weer bewis te maak hoe eenvoudig en hoe vinnig hy inkom.
Groete
Lizél
Hier is baie waarhede ingesluit. God is getrou en regverdig . Bou jou huwelik op die rots nl. God