“Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Daar is iets in die mens wat vasklou.
Ons hou vas aan dit wat vir ons sekuriteit gee — aan wat ons kan sien, beheer en op bou. Soms is dit geld of status, en soms is dit net die behoefte om seker te wees alles sal uitwerk.
En dis nie noodwendig verkeerd nie.
Die Here is nie teen seën en oorvloed nie. Trouens, ons sien hoe Hy mense oprig en vertrou met meer.
Dit is waar Jesus verder kyk as wat op die oppervlak is.
Hy kyk nie eerste na wat in jou hand is nie, maar na wat in jou hart sit. Ons kan selfs kyk na die weduwee wat haar laaste muntstuk in gegooi het. Sy het meer as almal in gegooi, want haar hart was daarin.
En dit is presies waar Lukas 12 ons ontmoet.
Jesus roep ons nie om net anders te dink nie, maar om anders te leef ook. Dit is presies wat Hy in Lukas 12:15 vir ons sê: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug…”
En dan gaan Hy nog verder in Lukas 12:33 waar Hy sê: “Verkoop julle besittings en gee aalmoese.”
Dis sterk woorde.
Maar dit is nie ’n algemene reël teen besittings nie, maar ’n uitnodiging om eerlik te kyk na wat jou besit.
Want daar is ’n verskil daarin om iets te hê… en om daardeur vasgevang te wees.
Ek dink nou aan iemand wat ek ken — iemand wat op ’n tyd baie min gehad het, maar met ’n opregte hart na God gesoek het. Oor ‘n tyd het die Here hom begin oprig. Vandag het hy baie. Hy is welaf, maar wat opvallend is, is nie wat hy het nie, maar hoe hy dit gebruik. Sy lewe het ’n kanaal vir God geword.
Dit is waar mens tot die besef kom: dit gaan nie oor hoeveel jy het nie, maar oor wie jou hart het.
Want jy kan baie hê… sonder dat dit jou besit. Dan kan jy ook min hê… en steeds vasgevang wees in wat jou hart na hinker.
Jesus vertel self van ’n man wat baie gehad het, ’n man wat gedink het sy antwoord lê daarin om groter skure te bou en alles vir homself op te gaar. Sy fout was nie dat hy baie gehad het nie, maar dat sy hart daarin vasgevang was.
En dit is waar die gevaar lê.
Wanneer die gawe die plek van die Gewer inneem.
Wanneer dit wat God gee, begin bepaal wie jy is, hoe jy leef, en waarop jy vertrou.
Dis hoekom Jesus dit reguit stel in Lukas 12:31: “Soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
Nie verwyder word of ontken word nie, maar bygevoeg word — op die regte plek, in die regte orde.
God se hart is nie om jou te ontneem nie, maar om jou vry te maak. Vry van die vrees om alles te verloor, en vry van ’n lewe wat gebou is op dinge wat kan vergaan.
En dit alles begin by die hart.
Want soos Hy sê in Lukas 12:34: “Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Nie net in teorie nie, maar in werklikheid.
Die loop van jou lewe wys waar jou skat is. In alles wat jy nastreef en jou vreugde gee. Selfs wat jou angstig maak om te verloor.
En God nooi jou nie om dit te ontken nie, maar om dit te bring, om eerlik te wees.
Om te erken: “Here, hier is my hart… en alles wat daarin vassteek.”
Want Hy is nie teen jou nie.
Hy is vir jou.
Hy wil nie net deel wees van jou lewe nie, Hy wil die middelpunt wees.
En wanneer Hy die middelpunt is, verander alles. Dit is dan wanneer seën nie meer ’n struikelblok is nie, maar ’n instrument.
Want seën kan ‘n afgod word as jou hart op die verkeerde plek is. As jou hart op die regte plek is ― kan daardie seën ― inplaas van ‘n afgod, ’n geleentheid word.
Dan is dit nie meer uit plig nie — maar uit ’n hart wat vry is.
En dalk is dit die vraag wat vandag sag maar duidelik na jou toe kom:
Waar is jou skat?
Nie die vinnige of “regte” antwoord nie, maar die eerlike een.
Want daar… presies daar…
sal jou hart wees.
Mag hierdie nie net woorde wees wat net lees nie, maar raak.
Mag elke sin iets oopmaak, elke waarheid iets regskuif.
Maar meer as als, dat jy nie net hoor nie, maar ook sien.
En mag jou hart al hoe meer in Sy rus in beweeg…
nie in wat jy alles het nie, maar in Hom wat alles gee.
Share the devotional with someone.
Amen God voorsien nie net fiesies.nie maar ook geestelik
Baie dankie.Dis stigtend
Here kom vul my hart en maak my ontvanklik vir U woord. Gee my die wysheid en insig om ontvanklik te wees vir U waarheid, Amen