Ek het na ’n preek geluister, en dit het gevoel asof ek self daar voor staan en preek, amper soos een van my beraadingsessies gevoel. Dit was woord vir woord wat ek dikwels in my eie sessies deel, en dit is wat my gedruk het om hierdie dagstukkie te skryf.

Daar is ’n spesifieke vers in die Woord van God waarna ek keer op keer terugverwys in beraadingsessies. Dit is asof hierdie een waarheid soos ’n fondament onder elke mens se lewe lê: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…”

Hoe eenvoudig, maar hoe diep sny dit net nie. Soveel mense sit vas, nie omdat daar nie uitkoms is nie, maar omdat hulle nie weet waar om te kyk nie. Dit is nie omdat God stil is nie, maar omdat Sy Woord nie geken én toegepas word nie.

Elke persoon wat gewoonlik voor my sit, ontvang uiteindelik nie my raad nie, maar Sy waarheid. Want geen menslike wysheid kan ooit opweeg teen die volheid van God se Woord nie. Daarom herinner ek hulle altyd: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Dit is nie net ’n mooi vers nie, maar ’n uitnodiging, ’n oproep en ’n verskuiwing van prioriteite.

Ons leef in ’n wêreld waar mense altyd eerste antwoorde, oplossings, erkenning en verligting soek. Maar God sê: begin by My. Nie as ’n laaste uitweg nie, maar as ’n eerste keuse. Want wanneer Hy eerste is, begin alles anders in plek val.

Ek het al soveel keer gesien hoe mense moed verloor wanneer hulle uitdagings in die gesig staar. Die lewe bring vrae, pyn en onsekerheid, maar ongeag wat voor jou lê, bly hierdie waarheid staan: “Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.”

Hierdie woorde is nie bedoel om net gehoor te word nie, maar om geglo te word. Dit is woorde om aan vas te hou wanneer alles rondom jou wankel, want geloof begin nie waar jy antwoorde het nie, maar waar jy God begin vertrou, selfs sonder antwoorde.

En tog gee God nie net beloftes nie, maar ook gesag: “Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.”

Hoe maklik vergeet ons dit. Hoe vinnig leef ons asof ons weerloos is, asof die vyand sterker is, maar God se Woord sê anders: die oorwinning is reeds gegee.

Die vraag is nie of die oorwinning bestaan nie, maar of ons daarin leef. Daar is selfs Christelike liedjies wat dit bevestig, en een van vele ander liedtjie is soos byvoorbeeld: “I Speak Jesus”. En tog besef mense nie altyd wat hulle sing nie. Dit is ’n kragtige lied wat vryheid kan bring, maar net as dit geglo word.

Daar is basiese beginsels in die Woord van God wat elke gelowige moet begryp. Nie as ’n lys reëls nie, maar as lewenswaarhede. Hierdie beginsels vorm ’n fondament, ’n plek vanwaar jy kan groei, bou en staande kan bly.

Een van daardie beginsels lê in hierdie woorde: “Dood en lewe is in die mag van die tong; en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrug daarvan eet.”

Wat jy sê, dra gewig. Wat jy uitspreek, bou of breek. Jou woorde is nie leeg nie, dit vorm jou lewe. Hoeveel keer praat mense hulself vas in vrees, twyfel en wanhoop, sonder om te besef dat hulle besig is om dood te spreek waar God lewe bedoel het?

En dit gaan nog verder waar Jesus gesê het: “Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”

Hier lê ’n geheim wat baie mense mis: daar is ’n samewerking tussen hemel en aarde. Wat jy hier doen, het geestelike implikasies. Jy is nie magteloos nie, maar deel van God se werk hier op aarde.

Maar hier is die eerlike waarheid: dit help nie om hierdie dinge net te hoor nie.

Jy kan elke vers ken, dit aanhaal en selfs op ’n sekere vlak glo… maar as dit nie toegepas word nie, bly dit net woorde.

Dan word ons soos die saad in die gelykenis van die saaier: dit word gesaai, maar dit wortel nie. En sonder wortels is daar geen groei nie. Sonder groei is daar geen vrug nie.

God se Woord is lewendig, maar dit moet in ’n ontvanklike hart val, in gond van geloof.

Elke mens, ongeag hul omstandighede, word geroep om hierdie beginsels toe te pas. Nie net in krisisse nie, maar in die alledaagse. Want ware vryheid kom nie deur een oomblik van insig nie, maar deur ’n lewe van gehoorsaamheid.

Ons moet leer om bewustelik lewe te spreek.

Om nie saam met die wêreld negatiwiteit te herhaal nie. Om nie ons probleme groter te maak deur dit oor en oor sonder hoop te herhaal nie. Want baie mense raak vasgevang in hul eie woorde. Hulle herhaal hul pyn totdat dit hul identiteit word.

Maar wat as jy daardie tyd anders gebruik?

Wat as jy, in plaas van jou probleem te verkondig, God se beloftes begin verkondig?

Wat as jou mond nie meer ’n kanaal van vrees is nie, maar ’n instrument van geloof?

Om die Woord van God oor jou lewe vas te maak, is nie ’n ritueel nie, dit is ’n daad van vertroue. Dit is om te sê: “Ek kies om te glo wat God sê, selfs al voel dit nie so nie.”

En wanneer jy dit doen, begin dinge skuif.

Nie altyd onmiddellik of sigbaar nie, maar in die geestelike realm begin dinge beweeg. Bande word gebreek, leuens verloor hul krag, en die mooiste van alles: hoop begin weer asemhaal.

Terselfdertyd leer jy om die werke van die vyand te bind, nie deur vrees of emosie nie, maar deur gesag en waarheid.

God het jou nie geskape om oorweldig te word nie. Hy het jou geskape om in oorwinning te leef. Maar oorwinning begin by kennis, en kennis moet lei tot aksie.

So, vandag staan die uitnodiging steeds: Soek Hom eers, bêre Sy Woord in jou hart, spreek lewe, staan in gesag, en leef dít wat jy glo.

Want wanneer God se Woord nie net in jou ore is nie, maar in jou hart en op jou lippe… dan begin jou lewe getuig van Sy waarheid.

En dit is waar ware vryheid begin.