Binnekamergewoontes
R145.00
Daar is ’n plek sonder grense, sonder mikrofoon, sonder prestasie. ’n Stil ruimte waar die siel haar asem vind, en die Gees fluister sonder woorde. Hierdie plek is die binnekamer, nie ’n vertrek met mure nie, maar ’n atmosfeer van ontmoeting.
In Binnekamerrewoontes word jy genooi na ’n dieper leefwyse. ’n Ritme van stilte en stem, van gebed en teenwoordigheid. Hier is rus nie passief nie, maar kragtig. Hier word nie net gehoor nie, hier word beleef.
Die boek is ’n heilige reis: deur die stilte wat spreek, die gebrokenheid wat verbind, die stryd wat vorm, en die dankbaarheid wat oopsluit. Elke hoofstuk is ’n uitnodiging tot intieme verhouding, nie met geloof as konsep nie, maar met God as werklikheid.
Nie net ’n boek nie, maar ’n Siel wat leef tussen bladsye. ’n Fluistering wat jou nader trek en sê: “Kom binne.”
E-BOEK BINNEKORT BESKIKBAAR
In die stilte ontdek ek wie ek werklik is. In my binnekamer ontdek ek Wie God werklik is.
Daar is ’n plek wat nie op ‘n kaart te vinde is nie, en tog wag dit elke dag vir jou. ’n Heilige ruimte, nie gebou van bakstene of versier met kerklike simbole nie, maar gevorm in die dieptes van jou hart. Jou binnekamer is die plek waar die rumoer van die wêreld stil word, waar die siel tot rus kom en waar die Skepper en skepsel mekaar in intimiteit ontmoet.
Ons leef in ’n tyd waarin gejaagdheid gelykgestel word aan betekenis. As ons besig is, lyk dit asof ons vorder; as ons stil raak, voel dit of ons stagneer, maar God se pad is dikwels teenstrydig met dié van die wêreld. Hy nooi jou nie tot meer besig wees nie; Hy nooi jou tot afsondering. Hy roep jou nie tot groter volume nie; Hy roep jou tot ’n sagter stem, ’n dieper luister, ’n binnekamergewoonte.
Hierdie boek is nie ’n handleiding nie. Dis ook nie ’n teologiese verhandeling nie, dis ’n uitnodiging - ’n Heilige uitnodiging van die Vader wat in liefde sê: “Kom nader.” Dis ’n gids, of meer nog, dit is ’n metgesel. My hoop is dat hierdie bladsye jou sal begelei na daardie stille plek, daardie kamer waar jy nie net oor God leer nie, maar waar jy Hom beleef.
Toe Jesus in Matteus 6:6 sê, “Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer…,” het Hy nie net ’n fisiese vertrek bedoel nie. Hy het ’n geestelike praktyk onthul, ’n wyse van intimiteit, van afsondering, van prioritisering. Die binnekamer is waar God nie net gehoor word nie, maar waar Hy fluister. Dis nie ’n plek van perfekte gebede of indrukwekkende woorde nie, maar ’n plek van rou eerlikheid, ’n plek waar jy jou hart mag uitstort en jou siel mag laat rus.
Elke hoofstuk in hierdie boek is gebore uit so ’n binnekameroomblik. Sommige het ontstaan in tye van vrede, ander in stormwinde van pyn, twyfel en stilte. Ek het geleer dat God nie altyd antwoord met donderslae nie, maar dikwels deur ‘n fluisterende hart. Ek het geleer dat aanbidding nie net liedere is nie, maar ‘n leefwyse. Ek het geleer dat stilte nie leegheid is nie, maar volheid. En ek het ontdek dat die binnekamer nie ’n ontsnapping is nie, maar ’n toetrede tot die hart van God.
Hier is wat jy nie in hierdie boek gaan vind nie: formule-gebede, voorskrifte vir perfekte geestelikheid of maklike antwoorde. Wat jy wel gaan vind, is ’n oproep tot egtheid, ‘n oproep tot rus en selfs ’n oproep tot lewe wat nie net geestelik “sien” nie, maar geestelik raakgesien word.
As jy gereeld oorweldig voel, of as jy net smag na ’n dieper verbinding met die Here, dan is hierdie boek vir jou. Die binnekamer is nie net vir monnike of mistici nie. Dit is vir die ma wat tussen luiers en werk smag na God. Dit is vir die student wat vrae het sonder antwoorde. Dit is vir die werker, die leier, die bediende. Die binnekamer is vir jou.
En dalk lees jy hierdie boek nie omdat jy reeds ’n gevestigde binnekamergewoonte het nie, maar omdat jy voel daar moet meer wees. En daar ís meer. Nie in nuwe spirituele tegnieke nie, maar in ‘n eenvoudiger en egter verhouding met die Vader. Hierdie boek wil jou help om daardie ruimte te skep, nie net fisies nie, maar geestelik, om nie net te weet dat God daar is nie, maar om Hom werklik te ontmoet.
Elke hoofstuk is gebaseer op die aspek van ‘n binnekamerlewe, stilte, gebed, aanbidding, die Woord, geestelike stryd, wag op God, dankbaarheid en nog meer. Jy sal praktiese insigte vind, maar ook stories, die soort vertellings wat nie net informeer nie, maar raak. Daar is ruimte vir jou eie refleksies, gebede en groei. En aan die einde, 'n versameling van getuienisse wat wys: die binnekamer is nie net ’n konsep nie, dit is ’n krag.
Ek bid dat hierdie boek vir jou ’n venster sal wees - nie ’n venster na my ervaring nie, maar na God se teenwoordigheid. Mag jy, soos Elia, leer dat die Here nie altyd in die wind of die aardbewing is nie, maar in die fluistering. Mag jy, soos Jesus, daagliks die afsondering kies, nie as verwerping van die wêreld nie, maar as voorbereiding om met krag in die wêreld te leef.
En mag jy, soos die Psalmis, kan sê: “Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.” Psalm 27:4
Welkom, vriend. Die binnekamer wag.





Reviews
There are no reviews yet.