Kom ons begin met ’n eerlike vraag:
Het jy al ooit die regte ding gedoen, maar met die verkeerde gesindheid?
Jy was daar.
Jy het opgedaag.
Jy het gemaak asof alles reg is.
Maar binne-in jou was dit nie.
Dit bring ons nou by die storie van Kain en Abel.
Kain en Abel bring albei ’n offer vir God. Van buite af lyk dit goed. Albei doen wat van hulle verwag word. Maar God kyk nie net na die offer nie – Hy kyk na die hart agter die offer.
Abel bring sy offer omdat hy God vertrou, waar Kain, aan die ander kant, syne bring omdat hy voel hy móét. Toe God Abel se offer aanvaar, het Kain kwaad geword. Nie omdat God onregverdig was nie, maar omdat Kain se hart nie reg was nie.
Hierdie storie gaan nie oor vleis teenoor groente nie. Dis nie ’n kompetisie oor wie die beste offer bring nie. Dis ’n storie oor gesindheid. God sou eerder ’n eenvoudige offer aanvaar wat met ’n opregte hart gegee word as iets groot en indrukwekkend wat sonder eerlikheid gebring word.
Dan doen God iets belangriks. Hy skree nie op Kain nie. Hy straf hom nie dadelik nie. Hy waarsku hom.
God sê: “Waarom is jy kwaad? Die sonde lê en loer by die deur, maar jy moet daaroor heers.”
Dis eintlik ongelooflik. God sê vir Kain: “Ek sien jou hart. Ek sien jou emosies. Maar jy het ’n keuse.”
Jy kan jou woede na My toe bring – of jy kan toelaat dat dit die oorhand oor jou kry.
Dit is waar hierdie storie baie naby aan ons lewens kom.
Want ons almal raak kwaad.
Ons almal raak jaloers.
Ons almal voel soms nie raakgesien nie.
Of selfs dat ons nie regverdig behandel word nie.
Die vraag is nie of jy daardie emosies gaan hê nie.
Die vraag is wat jy daarmee gaan doen.
Kain kies om sy woede nie voor God te bring nie. Hy praat nie daaroor nie. Hy maak nie sy hart reg nie. Hy draai dit eerder teen sy broer, en dit eindig in geweld en spyt.
Hier is die harde waarheid: As jy jou hart ignoreer, gaan dit iewers anders uitkom.
Onverwerkte emosies bly nooit stil nie.
Maar selfs ná alles, selfs ná die sonde, sien ons iets fenominaal oor God. God hou Kain verantwoordelik – maar tog verlaat Hy hom nie. Hy beskerm hom steeds. Dit wys vir ons dat God regverdig is, maar terselfdertyd genadig is.
So, vandag vra hierdie storie vir jou iets persoonliks.
Met watter hart kom jy voor God?
Wanneer jy bid, wanneer jy kerk toe kom, wanneer jy “die regte ding” doen – wat gaan regtig binne jou aan?
God soek nie perfekte mense nie.
Hy soek eerlike harte.
Harte wat sê: “Here, hier is ek – soos ek is.”
Want God gee nie net om oor wat jy wys nie.
Hy gee om oor wie jy is.
Share the devotional with someone.