Die Waarheid Agter Depressie Volgens Die Bybel
R145.00
Die boek handel oor ‘n baie aktuele onderwerp, alhoewel dit ‘n eeue-oue toestand is. Dit word dikwels misverstaan deur die gemeenskap, en selfs nabye vriende en familie. Daarom is hierdie boek ook ‘n handleiding vir die stille lyers na-aan die depressielyer, soos eggenote(s), kinders, familie en vriende.
Die boek dek die fisiologiese (neurologiese) en sielkundige aspekte, maar fokus hoofsaaklik op die geloofsaspekte, om ruimte te maak vir die geestelike aanslag wat nie altyd erkenning geniet nie. Daar word ruim gebruikgemaak van Skrifverwysings, wat ‘n lyer in vele omstandighede kan bemoedig. Ook wenke soos journaling en lofprysing is baie handig.
Treffend is die klem dat hier deernis vir die lyer (en naasbestaandes) moet wees, maar betrokkenes te bemagtig sodat daar ondersteuning is en ‘n ingesteldheid van verlamming vermy moet word. “Ruk jou reg!”
E-BOEK BINNEKORT BESKIKBAAR
Die inspirasie vir hierdie boek het gekom uit my direkte betrokkenheid by mense, wat met depressie worstel. Depressie is nie net 'n stil stryd nie, dit is een van die grootste redes waarom mense selfmoord oorweeg. Dit raak lewens op 'n diepgaande manier en kan 'n gevoel van wanhoop en alleenheid skep.
Na deeglike navorsing, intense Bybelstudie en die ontleding van verskeie beradingsgesprekke, het ek op waardevolle insigte en materiaal afgekom wat ek hierin neergeskryf het. Hierdie boek is bedoel as 'n praktiese hulpmiddel, iets wat lesers in hul eie lewe kan toepas, of wat mede-beraders kan gebruik om ander te ondersteun in hul herstelproses.
My wens is dat hierdie boek lig en hoop bring aan elke leser, en dat dit 'n padkaart bied na geestelike en emosionele heling.
Depressie is meer as net ‘n emosionele toestand. Dit is ‘n geestelike stryd wat diep in die sielsdimensie woed. Dit vreet stadig maar seker aan die innerlike mens, ‘n duistere aanslag wat nie net die gedagtes nie, maar ook jou hart en geloof probeer verswelg. Die menslike brein, met sy ingewikkelde netwerke van neurone en impulse, speel ‘n kernrol in hierdie stryd. Die limbiese stelsel, die setel van emosies, kan beïnvloed word deur negatiewe gebeure, wat die denkpatrone en persepsies verdraai en ‘n gevoel van hopeloosheid versterk.
Ons is nie sonder hoop nie. God het ons geskape met ‘n geestelike wapenrusting, ‘n krag wat elke aanslag van die vyand kan weerstaan, wat later in die boek verduidelik word. Romeine 8:31 herinner ons daaraan: “Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” Hierdie waarheid is ‘n baken van lig te midde van die donker dieptes waarin depressie ‘n mens kan dompel. Dit is nie bloot ‘n stryd teen omstandighede, mense, of finansies wat druk nie; dit is ‘n geveg teen geestelike magte wat die sielsdimensie wil verwoes.
Efésiërs 6:12 verklaar duidelik: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Hierdie boek is ‘n oproep tot bewustheid, ‘n onthulling van die geestelike realiteit agter depressie en ‘n bevestiging dat oorwinning moontlik is deur geloof. Ons moet leer hoe om op te staan met die volle wapenrusting van God, want die Een wat in ons is, is sterker as die een wat in die wêreld is (1 Johannes 4:4).
Gedurende die reis wat hierdie boek bied, sal jy ontdek dat vryheid van depressie nie in menslike oplossings alleen gevind kan word nie, maar in ‘n diep, onwrikbare verhouding met God. Hy is die Alfa en Omega, begin en die einde, die Lig wat deur geen duisternis kan oorwin word nie. Mag hierdie woorde jou inspireer, versterk en lei tot ‘n plek van herstel en geestelike krag.





Reviews
There are no reviews yet.